Kyk: Voertuig jaag jong bokkie deur Potchefstroom-woonbuurt
Inligting word gesoek ná kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe 'n voertuig 'n bok skynbaar met opset deur 'n woonbuurt jaag en tref.
Die Potchefstroom-gemeenskap is in rep en roer ná ‘n ontstellende voorval wat gister in die vroeë oggendure in een van die dorp se woonbuurte plaasgevind het.
Potchefstroom Herald berig ‘n voertuig het op ‘n bok afgejaag.
Volgens inligting wat deur Potchefstroom First Responders bevestig is, het die insident tussen ongeveer 01:00 en 02:00 in Oliver Tambostraat plaasgevind. Kringtelevisiebeeldmateriaal wat sedertdien nagegaan is, toon hoe ’n wit luikrag-voertuig (hatchback) ’n jong bokkie deur die strate agternasit.
Daar word verder beweer dat die voertuig doelbewus gebruik is om die dier te immobiliseer. Daar word ook geglo dat die insittendes van die voertuig die bok van die toneel verwyder het.
Bloedspatsels teen ‘n muur
Bewyse wat op die toneel aangetref is sluit onder meer sigbare hoefmerke teen ’n wit muur en bloedspatsels in, wat moontlik kan aandui dat die dier beseer is.
“Sulke optrede is nie net skokkend nie, maar ook diep ontstellend vir ons gemeenskap,” sê Leandro de Beer van Potchefstroom First Responders.
“Dit raak nie net dieremishandeling nie, maar hou ook ’n direkte risiko vir inwoners in, aangesien roekelose bestuur in woongebiede menselewens in gevaar stel.”

Potchefstroom First Responders doen ’n dringende beroep op die publiek om saam te staan. Enigiemand met inligting, and kringtelevisiebeeldmateriaal of wat moontlik die voorval gesien het, word versoek om na vore te kom en dit aan te meld.
Die gemeenskap se samewerking kan ’n sleutelrol speel om die oortreders vas te trek en soortgelyke voorvalle in die toekoms te voorkom.
Waarskuwing: Die volgende video kan sensitiewe kykers ontstel
Kyk na die video:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za