Lyke nog soek van 3 wat tydens doopseremonie in Vaalrivier sterf
'n Tragiese voorval het gister afgespeel toe twee volwasse mans en 'n jongmens deur water meegesleur is.
Twee volwasse mans en ‘n jongmens van Potchefstroom het gister om ongeveer 14:00 in die Vaalrivier naby Parys se geskiedkundige hangbrug verdrink. Volgens Parys Gazette is hulle liggame nog nie gekry nie.
Na wat verneem is het die tragiese voorval tydens ‘n doopseremonie gebeur.
Die rivier loop baie sterk by die stroomversnellings by ‘n klipplaat naby die brug waar die mans deur die water meegesleur is.
Waarsku teen gevaar
Inwoners in die omgewing van die hangbrug het in die verlede al ‘n ernstige pleidooi tot die Ngwathe-munisipaliteit gerig om waarskuwingsborde by die hangbrug aan te bring om veral kinders te waarsku teen die gevare daaraan verbonde om in die rivier te swem.
Oor die jare was daar al verskeie verdrinkings spesifiek by die hangbrug. Einde September het ‘n man ook by die hangbrug gesterf nadat hy vir sekuriteitsbeamptes gevlug en toe in die rivier gespring het.
Stroomversnellings
Mense misgis hulle dikwels met stroomversnellings en die rivier is baie gevaarlik veral in tye wanneer daar verhoogde watervloei is soos wat nou ook die geval is.
Alkoholgebruik langs die rivieroewer skep ook ‘n gevaar wanneer mense minder bedag is op waterveiligheid.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za