Man in die kop geskiet, taxi’s beskadig in spervuur op die N12-snelweg

Polisie in Mpumalanga maan motoriste aan om snags die snelweg te vermy nadat etlike gevalle onlangs op die pad aangemeld is.

Verskeie passasiers het Vrydagaand verslae rondgestaan en taxi’s met koeëlgate was duidelik sigbaar by ‘n vulstasie op die N12 in die rigting van Witbank.

Dit nadat vier aangemelde gevalle – waar klippe op die snelweg gepak is om motoriste tot stilstand te dwing – binne minute van mekaar gerapporteer is.

Verdagtes skuil glo in die mielielande tussen die R50 Bapsfontein- en R42 Bronkhorstspruit aan die N12-snelweg, klippe word op die padoppervlak gepak en nadat voertuie dit tref, slaan die bende op voertuie toe.

Tydens Vrydagaand se eerste geval het die bestuurder van ’n taxi gestop nadat sy taxi ’n klip in die pad getref het. Ses gewapende rowers het die bestuurder en sy passasiers oorval en van hulle besittings beroof.

Die bestuurder het na die Petroport-vulstasie, rigting Witbank, gehaas waar hy om hulp gevra het. Die Delmas Polisie in samewerking met lede van die Anti-Hijacking en Policing SA-groep, sowel as die AfriForum Delmas Valke Buurtwag was reeds op daardie stadium besig met ’n klopjag op die N12.

Koeëlgate in een van die taxi’s waarop daar geskiet was.

Tydens hulpverlening aan die eerste slagoffer het die polisie gehoor dat nog drie taxi’s, op pad na Mosambiek, dieselfde lot getref het.

Die aanvallers het verskeie skote geskiet en een van die passasiers was in die kop geskiet.

Met die taxi’s se aankoms by die Petroport-vulstasie was eerstehulp onmiddellik op die gewonde passasier toegepas. Hy wou glo nie per ambulans na die naaste hospitaal gaan nie.

Met Streeknuus se aankoms op die toneel was drie van die taxi’s steeds op die toneel.

Kaptein Carla Hartley, die mediawoordvoerder van die Delmas-polisie, het intussen ’n waarskuwing aan motoriste wat van die N12 tussen die Bapsfontein- en Bronkhorstspruit-afritte gebruik maak om uiters versigtig vir voorwerpe op die padoppervlak te wees en liefs te vermy om die pad snags te gebruik.

Read original story on ridgetimes.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button