Man in hof ná bejaarde egpaar se aanval en seun se moord op plaas buite Hendrina

Verdagte verskyn in hof ná plaasaanval wat 46-jarige se lewe geëis het en sy bejaarde ouers ernstig beseer het.

‘n Man het vandag in die Hendrina-landdroshof verskyn in verband met die moord op ’n 46-jarige man en die wrede aanval op sy ouers in November 2024, op ’n plaas buite Hendrina in Mpumalanga.

Volgens Middelburg Observer word daar verneem dat die polisie die verdagte gisteroggend in eMbalenhle (digby Secunda) gearresteer het en dat daar reeds ’n bekentenis en uitwysings gedoen is. Die verdagte het klaarblyklik voor die moord op ’n buurplaas gewerk.

Die 46-jarige man is verlede jaar op die plaas vermoor en ’n familielid het hom gevind.

Die oorledene se suster het kort ná haar broer se moord en aanval op haar ouers vir die Observer gesê hoe swaar die omstandighede vir haar is. Sy het genoem dat haar broer alles vir hulle ouers gedoen het.

Ernst van den Berg (bekende boer van die Belfast-omgewing), wat bevriend is met die familie, het vanoggend die koerant gekontak en laat weet van die arrestasie. Die provinsiale polisie se mediakantoor het dit ook bevestig.

Van den Berg sê hulle het destyds aanvanklik gedink dat die man wat vermoor is, gesterf het weens ernstige kopbeserings wat hy tydens die aanval opgedoen het. “Ons het eers ná die uitkenning gehoor dat hy twee keer geskiet is met ’n .22 handwapen wat by die buurplaas gesteel is! Hy is in die hart en die long geskiet. Op die toneel kon ons dit nie sien nie.”

Sowat drie maande gelede is ’n voertuig in ’n padblokkade by Tzaneen in Limpopo gestop en die gesteelde .22 handwapen is in die voertuig gekry. Die bestuurder van die voertuig is aanvanklik gearresteer, maar hy het vir die polisie gesê dat hy rylopers opgelaai het, wat uitgespring het toe hulle die padblokkade genader het. Die polisie het in hulle ondersoek gevind dat hy die waarheid praat en hy is laat gaan.

Hulle ondersoek het hulle egter gelei na Embalenhle, waar die verdagte gisteroggend gearresteer is.

  • Die polisie het vroeër vanjaar ’n gesigsamestelling van ’n verdagte uitgestuur, wat positief verbind word met sake, waaronder dié op die man en die aanval op sy ouers.

Die uitkoms van vandag se hofverskyning was nie teen tye van publikasie beskikbaar nie.


 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button