Man twee keer in vier dae ontvoer: Vier verdagtes môre in Parys-landdroshof
’n Man (29) is eers onder valse voorwendsels na Klerksdorp gelok en deur verdagtes, wat hulle as polisie voorgedoen het, afgepers. Vier dae later is hy weer in Parys ontvoer.
Vier verdagtes tussen die ouderdom van 27 en 42 sal Maandag na verwagting in die Parys-landdroshof verskyn op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering en afpersing van ‘n man tydens twee afsonderlike voorvalle enkele dae uitmekaar.
Parys Gazette berig die eerste voorval was op 20 Junie toe die 29-jarige slagoffer eers onder valse voorwendsel na Klerksdorp gelok is glo om ‘n erflating aangeleentheid af te handel. Daar gekom het verdagtes wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, hom genader en ook bewerings van bedrog teen nog ‘n persoon gemaak. Hulle wou R8 000 hê voordat hulle die man laat gaan het.
Vier dae later is die man op 24 Junie deur vier gewapende verdagtes by ‘n gastehuis in Parys oorval, vasgebind en in sy voertuig gedwing. Hy is later in ‘n ander voertuig gedwing en na ‘n onbekende plek geneem, waar hy as gyselaar aangehou en gedwing is om die sekuriteitskodes vir sy bankkaarte aan die verdagtes te gee.
Die man is uiteindelik deur ‘n ander persoon vrygelaat, het polisiewoordvoerder kaptein Loraine Earle gesê.
’n Multidissiplinêre span, bestaande uit die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, misdaadintelligensie, speurders van Parys en hul Noordwes-eweknieë, het ’n intensiewe ondersoek van stapel gestuur na die twee insidente, en is die arrestasies gemaak. Die voertuig is verlate naby Ventersdorp gevind.
Die ondersoek duur voort, het Earle bevestig.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za