Mans wat kleuter in oond wou druk en sy oupa vermoor in eMalahleni gevonnis
Die 51-jarige Peet Swanepoel is bykans vier jaar gelede koelbloedig in die oprit na sy huis doodgeskiet.
Twee mans is onlangs hewig gevonnis vir die moord op Peet Swanepoel (51) in 2019.
Die Witbank-landdroshof het Khulufelo Makhudu (24) en Gift Mbola (28) op 8 Augustus elk lewenslank gevonnis vir moord en vyf-jaar lank elk vir roof met verswarende omstandighede.
Swanepoel het by sy huis gestop toe hy op 28 Augustus 2019 koelbloedig in die oprit doodgeskiet is.
In die huis was Annelize Swanepoel (55) deurdrenk met bloed na ’n meedoënlose aanval deur dieselfde mans wat haar man enkele minute vantevore geskiet het.
“Die rowers het gedreig hulle gaan ons kleinseun, Franco, in die oond sit. My wangbeen en neus is gebreek toe hulle my met die agterkant van ’n vuurwapen geslaan het. Terwyl ek moes pleit dat hulle Franco se lewe spaar het hulle deur die huis gegaan opsoek na geld.”
Die drie rowers het sewe vuurwapens, Annelize se juwele en twee televisiestelle in haar kar gelaai en weggejaag.
Haar kar is later naby die Kusile-afrit teruggekry.
Ondersoek
Sersant Levy Rangwaga en Sersant Themba Mokwena van Witbank SAPD se trio-taakspan het dadelik met die ondersoek begin en is deur die hof geprys vir hulle puik ondersoekwerk wat gelei het tot die suksesvolle vonnis.
“Ons hoop dié vonnis sal dien as ’n afskrikmiddel vir die wat enige misdaad, veral geweldsmisdaad beplan,” het die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Monica Nyuswa, gesê.
“Daar het so baie gebeur in die afgelope vier jaar. Ons lewe het handomkeer verander. Ons sukkel om kop bo water te hou. Daar is soveel emosionele letsels, maar, ek dra nie ’n wrok nie. Ek vergewe hulle. Hulle het nie geweet wat hulle doen nie,” het Annelize in ’n onderhoud met Witbank Nuus gesê.
Read original story on witbanknews.co.za