Middelburg-hokkieseun ‘bewusteloos geslaan’ in Pretoria: Skole hanteer voorval met erns

Terwyl Hoërskool Eldoraigne besig is met ‘n formele ondersoek ná 'n voorval by 'n hokkiewedstryd, waarsku dié skool dat kommentaar op sosiale media teen minderjarige leerders lasterlik is.

Beide Hoërskool Eldoraigne en die Hoër Tegniese Skool Middelburg het gister (22 April) bevestig dat hulle die aanrandingsbewerings wat ‘n ouer van HTS Middelburg gemaak het, ernstig opneem en besig is om verdere stappe te neem.

Die kind se ma het vroeër in ‘n persvrystelling gesê dat haar seun ernstig beseer is en behandeling ontvang het na die NWU hokkiefinaal by Eldoraigne se sportvelde wat Saterdag (18 April) plaasgevind het, berig die Middelburg Observer.

Die ma het by verdere navraag gesê dat sy reeds ‘n klag by die polisie gelê het, maar op aanbeveling van haar prokureur, nie daarop wil uitbrei nie.

Malem van Heerden, hoof van HTS Middelburg, het gesê dat die skool se dissiplinêre komitee reeds besig is met die ondersoek en al reeds die weergawes van die leerders ontvang het.

“Ons het ook van NWU se direksie die instruksie ontvang dat beide die leerders wat rooikaarte ontvang het nie verder hokkie kan speel voordat die ondersoeke afgehandel is nie.”

Hy het aangedui dat hy en Hoërskool Eldoraigne se hoof, Retief Smith, ook telefonies gekommunikeer het, ‘en ek kan met sekerheid noem dat hulle die saak met die nodige erns hanteer’.

Die beheerliggaam van Hoërskool Eldoraigne het gister ‘n persverklaring uitgereik na aanleiding van die publikasie se navrae.

Daarin sê die skool dat hulle bewus is van die Middelburg-ma se aantygings, en dat die voorval ook deur hul eie personeellede, wat op die dag by die skool aan diens was, gerapporteer is.

Die persverklaring bevestig dat ‘n formele ondersoek aan die gang is wat moontlik teen die einde van die week voltooi sal wees. Dit sluit verklarings van personeel en ooggetuies asook die insameling van beeldmateriaal in.

Indien die ondersoek bevind dat leerders die skool se gedragskode oortree het, sal daar streng dissiplinêre stappe teen hulle geneem word.

Hoërskool Eldoraigne het bevestig dat hulle in kontak is met HTS Middelburg en ten volle saamwerk met onderwysowerhede.

Weens die feit dat minderjariges by die voorval betrokke is, wou die skool nie op die meriete van die saak kommentaar lewer nie. Die skool het genoem dat dissiplinêre verrigtinge streng vertroulik hanteer sal word om die betrokenes se identiteite te beskerm.

Die skool sê dat hulle kennis geneem het van kommentaar op sosiale media en dat baie daarvan onwaar en lasterlik teenoor die skool en die betrokke minderjarige leerders is.

Lees Hoërskool Eldoraigne se volle persverklaring hier.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button