‘Mirakel’ is pure kuns en dis by Innibos

Die teaterstuk wat 'n resesent beskryf as iets 'wat jou gees uit die stof laat opstaan' moet nie misgeloop word nie.

Top Afrikaanse akteurs is te sien in die toneelstuk Mirakel wat tydens Innibos op die planke sal wees. Dié klassieke drama is uit die pen van wyle Reza de Wet en bring die ‘kuns van kuns’ opnuut na die verhoog.

Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis is in die rolverdeling wat danksy die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) moontlik gemaak is, ’n luukse in ’n tyd wanneer die rieme op alle vlakke dun gesny word.

Dawid Minnaar en Rolanda Marais op die verhoog. Foto: hansvanderveen.co.za

 

Dit is juistement die tema van Mirakel wat afspeel in die depressiejare van die 1930’s.

’n Teatergeselskap onder die leiding van die befaamde akteur Dante du Pré  bevind hulle in ’n klein dorpie in die hoop om ’n bietjie verligting te bring met ’n opvoering en sodoende die baie leë geldkoffer weer ’n bietjie aan te vul. Die toneelspelers het lanklaas geëet, en dit is die stinkryk Anna wat kos aandra. Met heelwat onderstrominge tussen die karakters, moet die verhongerdes ook begin kies tussen oorlewing en verraad, idealisme en realiteit.

Dawid Minnaar en Bettie Kemp. Foto: hansvanderveen.co.za

 

Die toneelstuk het vol sale getrek by die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees, en staan onder spelleiding deur Marthinus Basson.

Izak de Vries, resensent, skryf op Litnet só daaroor: “Daar is iets bittersoet daaraan om kuns bo rykdom te kies. Nie almal doen dit nie, en in alle eerlikheid steek De Wet se teks die draak met diegene wat hulself as verhewe beskou bo diegene wat vermaak kies bo klassieke teater. Onder Basson se leiding word die karakters so werklik dat die skyn oorneem. Ons ekonomie is tans moertoe, maar as jy ’n paar rand kan afknyp, sou ek hierdie stuk vir teaterliefhebbers aanbeveel. Júis ómdat.”

Leatitia Pople, vermaarde teaterresensent, sê: “Dit voel asof jy as gehoorlid behoorlik beheks is. Die werk van Reza de Wet bly by jou spook. Mirakel laat jou gees uit die stof opstaan.”

Mirakel is te sien by die Mbombela Stadsteater op:

  • Donderdag, 29 Junie om 11:00;
  • Vrydag, 30 Junie om 18:00 en
  • Saterdag, 1 Julie om 10:00.
  • Kaartjies kos R190.

Vir die volledige Innibos-program en skakels na die kaartjieverkope, besoek die Innibos webtuiste. Kaartjies is te koop by Computicket, en ook by die Innibos-kantoor op die hoek van De Villiers- en Anneckestraat by Sonpark-sentrum in Mbombela.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button