Moord in Vereeniging: Benoni-hof hoor ma het glo boeties ‘aangehits’

Die Metz-broers is glo deur hulle ma, Lindi Falch, aangepor om Benjamin Lotz in sy erf in Leeuhof te slaan.

‘n Ma van Leeuhof in Vereeniging het glo met ’n panga teen die oorledene se hek geslaan en haar seuns van agter die draad af aangehits om die 52-jarige man in sy erf te slaan.

Dit is van die skokkende getuienis wat verlede week in die rondgaande hooggeregshof in Benoni uitgekom het waar Lindi Falch (44) en haar drie seuns, Raymond (21), Shane (24) en Simon Anton (18) vir die moord op Benjamin Lotz verhoor word.

Lotz is dood nadat hy in ‘n stryery met die broers betrokke was.

Ben Lotz wat vermoor is. Foto: Verskaf.

Een van die broers, Raymond, het reeds in ‘n pleitverduideliking erken dat hy die oorledene herhaaldelik met ‘n klein messie gesteek het, maar dat hy nie kan onthou hoeveel keer nie. Hy het egter onskuldig op die moord gepleit.

Vaalweekblad het voorheen berig dat klagtes teen ’n vyfde beskuldigde in die saak, Estivan Delport (20), intussen teruggetrek en dat hy nou ‘n staatsgetuie is.

Estivan het getuig dat Lindi haar seuns aangehits het om die oorledene in sy erf te slaan toe hulle hom by sy huis gaan konfronteer het oor ‘n voorval vroeër die aand waartydens Raymond en Delport glo deur Lotz aangeval is.

Lindi Falch verlaat die Benoni-landdroshof. Saam met haar is haar jongste seun, Simon Anton Metz, en haar regsverteenwoordiger Charles de Beer. Foto: Christiaan Cloete.

In afsonderlike getuienis het Johannes Mathys Wynand, die oorledene se saamleefmaat, vandeesweek getuig dat Falch van agter die draad af vir Delport geskree het om Wynand se honde te steek.

Volgens Wynand het Falch van agter die draad af geskree: “Maak vrek daai honde! Hulle gaan my kinders byt!”

Dit volg nadat die honde probeer het om die oorledene te red toe die boeties hom aangeval het.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button