Ma Lindi het glo boeties ‘aangehits’
Die ma het haar seuns opdrag gegee om die oorledene te slaan.
VEREENIGING. – ‘n Ma van Leeuhof het glo met ’n panga teen die oorledene se hek geslaan en haar seuns van agter die draad af aangehits om die 52-jarige man in sy eie erf te slaan.
Dit is van die skokkende getuienis wat verlede week in die rondgaande hooggeregshof in Benoni uitgekom het waar Lindi Falch (44) en haar drie seuns, Raymond Metz (21), Shane Metz (24) en Simon Anton Metz (18) vir die moord op Benjamin Lotz van Leeuhof verhoor word.
Lotz is dood nadat hy in ‘n stryery met die broers betrokke was.

Een van die broers, Raymond, het reeds in ‘n pleitverduideliking erken dat hy die oorledene herhaaldelik met ‘n klein messie gesteek het, maar kan nie onthou hoeveel keer nie. Hy het egter onskuldig op die moord gepleit.
Vaalweekblad het voorheen berig dat klagtes teen ’n vyfde beskuldigde in die saak, Estivan Delport (20), intussen teruggetrek en dat hy nou ‘n staatsgetuie is.
Estivan het getuig dat Lindi haar seuns aangehits om die oorledene in sy erf te slaan toe hulle hom by sy huis gaan konfronteer het oor ‘n voorval vroeër die aand waartydens Raymond en Estivan glo deur Benjamin aangeval is.
In afsonderlike getuienis het Johannes Mathys Wynand, die oorledene se saamleefmaat, vandeesweek getuig dat Lindi van agter die draad af vir Estivan geskree het om haar (Johannes se) honde te steek.
Volgens Johannes het Lindi van agter die draad af geskree: “Maak vrek daai honde! Hulle gaan my kinders byt!”
Dit volg nadat die honde probeer het om die oorledene te red toe die boeties hom aangeval het.

