Moord op Fochville-wildsplaas: Ek het dit gedoen, sê beskuldigde in hof

Een van die mans wat van die moord op Ian Boshoff beskuldig is, het in die Potchefstroom-landdroshof skuld beken.

Drie mans: Phafelo Israel Mboniswa (42) en William Johnson Mboniswa (33) – twee broers – en hulle neef, Steve Moletsane (42) het Maandag in die landdroshof in Potchefstroom verskyn op aanklagte van huisbraak, moord, diefstal van ‘n motorvoertuig, twee aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde goedere en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Hulle is verlede Donderdag in die Ikageng-nedersetting in verband met die moord op Ian Boshoff (32) in hegtenis geneem.

Boshoff (32), ‘n wildsplaasbestuurder van die Snymanshof Lodge langs die Frischgewaagd-pad in die Buffelshoek-omgewing, is op 25 Oktober tydens ‘n rooftog doodgeskiet.

“Die verdagtes het die slagoffer se voertuig, twee vuurwapens, gereedskap en huishoudelike goedere gevat. Die verdagtes het vroeër ook by ‘n ander huis in die area ingebreek,” het polisiewoordvoerder Brigadier Sabata Mokgwabone gesê.

“Die saak teen Moletsane is in die hof weens ‘n gebrek aan bewyse, teruggetrek,” het Sive Gunya, ‘n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag gesê.

Phafelo het tydens die hofverrigting sy hand opgesteek en skuld beken. “Ek het dit gedoen,” het hy in die hof gesê.

Die verdagtes sal na verwagting op 25 November weer voorkom vir ‘n moontlike borgtogaansoek.

Boshoff, oorspronklik van Bothaville, is Saterdag tydens ’n troosdiens gegroet.

“In hierdie donker tyd na die tragiese verlies van ons dierbare Ian, het ons eerstehands ervaar hoe kragtig medemenslikheid en ondersteuning werklik is. Dit is moeilik om die woorde te vind om ons dankbaarheid uit te druk vir elkeen van julle wat ‘n boodskap gestuur het, ‘n oproep gemaak het, of ons besoek het. Julle liefde en omgee het ons deur die moeilikste dae gedra, en elke gebaar het ons herinner dat ons nie alleen is nie,” het sy ma, Sonja, en pa, Bossie, op sosiale media gesê.

“Ian se lewe is van ons geneem, en die hartseer en gemis is groot. Maar ons vind troos in die wete dat daar reeds mense in hegtenis geneem is, en ons glo dat geregtigheid vir Ian sal geskied.”

Sy ouers wens dat hierdie proses die gemeenskap inspireer om nog sterker saam te staan teen onreg. “Mag ons met die beste deel van onsself voortgaan, net soos Ian dit sou wou hê. Ons sal altyd onthou hoe julle saam met ons rou, en hoe julle Ian se lewe eer,” sluit die plasing af.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button