Moord op Limpopo-prokureur: Man vrygespreek
Tsholofelo Joseph Motsoane het tereggestaan op aanklagte van moord, sameswering tot moord en vuurwapenverwante klagtes.
As familie het hulle bly hoop dat die man wat verantwoordelik was vir haar man se dood in 2022, aan die pen sou ry.
So het Fransie Pienaar, die weduwee van die vermoorde prokureur Schalk Pienaar, van Mokopane, verlede week gesê nadat Tsholofelo Joseph Motsoane, die beskuldigde in die moordsaak, in die Hooggeregshof in Polokwane vrygespreek is.
Motsoane het tereggestaan op aanklagte van moord, sameswering tot moord, en vuurwapenverwante oortredings en was vermoedelik die bestuurder van die wegkommotor nadat Pienaar geskiet is.
Bosveld Review het voorheen berig hoe Pienaar op 19 September 2022 vermoor is, kort nadat hy by die huis aangekom het.
Hy is 10 keer in sy motoroprit geskiet en het in sy vrou se arms gesterf. Motsoane is ‘n maand later gearresteer.
AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, wat die Pienaar-gesin in die hof verteenwoordig en vergesel het, het in ‘n mediaverklaring bevestig dat die enigste getuienis wat Motsoane met die saak verbind het, sy bekentenis was. Die regter het egter beslis dat dit alleen nie genoeg was om hom skuldig te bevind nie.
Barry Bateman, die woordvoerder van die eenheid, het bygevoeg dat die vervolgingseenheid teleurgesteld is oor die saak se uitslag en beplan om binnekort ‘n vergadering met die Pienaar-gesin te hou.
Familie se trauma
Fransie het aan die koerant vertel hoe traumaties die hofverrigtinge vir hulle gesin was.
“My familie is stukkend en dis baie traumaties om elke keer deur die hofverrigtinge te sit en keer op keer die dag te herleef wat my geliefde van my af weggeskeur is. Dit is moeilik om deur hierdie verrigtinge te sit, en nog moeiliker om aan te beweeg met jou lewe as daar geen uitsluitsel is nie. Ek is baie teleurgesteld oor die uitkoms en is nog onseker wat die pad nou vorentoe is, maar ek is dankbaar teenoor AfriForum vir hul ondersteuning.”
Sy vertel hoe hul familie vroeër vanjaar, toe daar in Motsoane se borgtogaansoek verwys is na sy uitgebreide misdaadgeskiedenis wat terugdateer tot 2003 en die feit dat hy reeds vonnisse uitgedien het vir afsonderlike sake van poging tot moord, roof en diefstal, ‘gehoop het dat die misdadiger aan die pen sou ry’.
Motsoane is destyds ook skuldig bevind dat hy uit aanhouding ontsnap het terwyl hy verhoorafwagtend was oor twee van die sake.
“Schalk het in geregtigheid en die regstelsel geglo, en ek glo steeds dat Schalk ook sy dag in die hof gaan kry,” het Fransie afgesluit.
Read original story on www.citizen.co.za