Moord op Roossenekal-man (78): Beskuldigde wys borg van die hand
Die man wat van die moord op Robert Stoltz (78) aangekla is, het gister in die hof verskyn.
Die beskuldigde in die moordsaak van Robert Stoltz (78) het sy borgaansoek laat vaar.
Middelburg Observer berig dat Bobo Mokoena gister in die Groblersdal-landdroshof verskyn het vir ‘n formele borgaansoek.
Mokoena het aangedui dat hy sy borgaansoek laat vaar en die saak is uitgestel na ’n latere datum vir verdere ondersoek.
Stoltz is op 30 April op die plaas Stofkraal op die Harteluspad (tussen Laersdrif en Roossenekal) vermoor. Sy dogter, Mariaan, het hom die volgende oggend in sy badkamer gevind.
Mokoena is op 18 Mei by sy werksplek in die Laersdrif-omgewing gearresteer. Kort daarna is verskeie wapens en ammunisie by ’n huis gevind.
Daar word verneem dat Mokoena ’n bekentenis afgelê het en ook vir die polisie gesê het vir wie hy Stoltz se haelgeweer gegee het.
Nog ’n verdagte, Bazali Mathebula (29), is verlede Dinsdag gearresteer en hy het Vrydag in dieselfde hof verskyn. Stoltz se haelgeweer is tydens Mathebula se arrestasie teruggekry.
Hy word nie positief verbind met die moord nie, maar word aangekla van besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, omdat talle wapens gekry is by die perseel waar hy gearresteer is. Tydens Mathebula se verskyning in die hof is borg van R4 000 toegestaan.
Lees ook: Tweede verdagte verskyn ná moord op Roossenekal-man (78)
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za