Beskuldigde in Robert Stoltz plaasmoord wys borg van die hand
Die man wat gister in die hof verskyn het op ’n moordklagte, wil nie nou aansoek doen vir borg nie.
Die beskuldigde in die Robert Stoltz moordsaak het sy borgaansoek laat vaar.
Bobo Mokoena het gister in die Groblersdal Landdroshof verskyn vir formele borgaansoek, maar hy het aangedui dat hy sy borgaansoek laat vaar. Die saak is uitgestel na ’n latere datum vir verdere ondersoek.
Mnr. Stoltz is op 30 April op die plaas Stofkraal op die Harteluspad (tussen Laersdrif en Roossenekal) vermoor.
Sy dogter, Mariaan, het hom die volgende oggend in sy badkamer gevind.
Lees ook: Bejaarde wreed op plaas vermoor
Mokoena is op 18 Mei by sy werksplek in die Laersdrif omgewing gearresteer. Kort daarna is verskeie wapens en ammunisie by ’n huis gevind.
Lees ook: Deurbraak in Robert Stoltz moordsaak – verdagte in hof vandag, talle wapens, ammunisie gevind
Daar word verneem dat Mokoena ’n bekentenis afgelê het en ook vir die polisie gesê het vir wie hy mnr. Stoltz se haelgeweer gegee het.
• ’n Tweede verdagte, Bazali Mathebula (29), is op 20 Mei gearresteer en het Vrydag in die Groblersdal Landdroshof verskyn. Mnr. Stoltz se haelgeweer is tydens Mathebula se arrestasie teruggekry. Hy word nie positief verbind met die moord nie, maar word aangekla van besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, omdat talle wapens gekry is by die perseel waar hy gearresteer is. Tydens Mathebula se verskyning in die hof, is borg van R4 000 toegstaan.
