Musiek van die boonste rak by Innibos

Die fees in Mbombela sal weer vanjaar vir top-gehalte vermaak sorg met talle bekendes wat die gehoor sal bekoor.

Verskeie musiekteaterproduksies by Innibos gaan vanjaar musiekliefhebbers behoorlik laat kopkrap om al hulle draaie te kry om elke opvoering by te woon, want ’n mens wil regtig nie een misloop nie. Die feesterrein bied, soos altyd, ’n wye verskeidenheid populêre musiek, maar daar is beslis ook iets vir diégene wat iets rustiger soek!

Grenslose bewondering is inderdaad wat ’n mens beleef wanneer twee musieklegendes soos André Schwartz en Coenie de Villiers kragte saamsmee in die musiekteaterproduksie Grensloos.

Dit is die eerste produksie waarin dié talentvolles musikante saam optree, en vertonings in Kaapstad en Johannesburg vroeër het uitverkoop.

Schwartz, bekend as sanger van internasionale formaat, wys in dié opvoering dat hy ook ’n koning van die klawers is. De Villiers betower soos altyd met sy virtuositeit. Saam is hulle optrede sonder grense van taal, ouderdom of repertoire, en weerspieël dit optimisme en veerkragtigheid.

Poësie en sielvolle musiek is die ideale pasmaats by ’n Clemengold Gin-proe, veral wanneer die woordkunstenaars Jak de Priester en die bekroonde digter Bibi Slippers is. De Priester, De Slippers en De Gin is ’n keurige produksie met lekker ekstra oemf.

Bibi se voorlesings is uit haar opspraakwekkende debuutbundel Fotostaatmasjien sowel as nuwe gedigte vir haar verwagte tweede bundel. De Priester is buiten ’n geliefde sanger van formaat ook ’n storieverteller wat weet hoe om ’n gehoor in die palm van sy hand te hou. Tussendeur word daar lekker geproe aan Clemengold Gin wat gemaak is van mandaryne uit die Laeveld.

Sien uit na ’n sielvolle en sintuiglike produksie.

Opera Extravaganza, op 2 Julie in die Mbombela Stadsteater, is deel van Innibos 2023 se klassieke aanbod, en ʼn heerlike viering van opera! Nie net sal daar talentvolle soliste wees nie, maar die instrumentale kant van opera word ook verken met werke soos die Carmen Fantasy deur Sarasate vir viool, en die Ouverture van Le nozze di Figaro, verwerk vir 8 hande op 2 klaviere.

Die liefling van Suid-Afrikaanse opera, sopraan Loveline Mudamo, mezzo-sopraan Linette van der Merwe en die bekende violis Zanta Hofmeyr is o.a. deel van dié program.

Die Harvard Krokodiloes, Harvard Universiteit se acapella-groep, kom maak as deel van hulle internasionale toer ook by Innibos ’n draai. Hulle repertoire sluit jazz, funk, rock & roll en ballade-verwerkings in.

Kuns inni Liedjiebos, waar musiek, kuns, dans en woordkuns mekaar aanvul en belig, is ’n unieke produksie waarin Lizanne Barnard gedigte getoonset het wat deur ‘n verskeidenhied musikante en kunstenaars uitgevoer word. Van die gedigte word ook as kunswerke en in dans geïnterpreteer. Germandt Geldenhuys is die voorleser en Jan Blohm tree as gaskunstenaar op.

Lees ook: Drama-drama by Innibos

Read original story on lowvelder.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button