Ná 44-jaar in die redakteurstoel groet Middelburg ‘n koerantreus

Tobie van den Bergh het onlangs afgetree ná dekades in die joernalistiek.

Ná 48-jaar in die joernalistiek, met 44-jaar in die redakteurstoel van die Middelburg Observer en Daller koerante, is Tobie van den Bergh (66) alombekend.

Van den Bergh het einde Maart sy stoel die laaste keer by Middelburg se gemeenskapskoerant agter sy lessenaar ingestoot, maar sy pen is nog nie droog nie.

Hy het verlede Donderdag sy derde boek, Ink is dikker as Bloed, in dié Mpumalanga-dorp – waar hy al diep spore in talle se lewens getrap het, bekend gestel.

Dit is wel nie net sy woeker met woorde wat hom so gesog in die koerantbedryf maak nie. Sy impak op die Middelburg Observer-koerant is duidelik te sien en onder sy leierskap het die koerant talle toekennings ingepalm.

Een wat vir hom uitstaan is toe die hele Middelburg Observer-redaksiespan onder die top-10 finaliste vir die destydse Sanlam Plaaslike Media-toekennings se ‘Joernalis van die Jaar’ geëindig het.

“Ons het daai jaar ses van die tien plekke gevat. Ek sal dit vir altyd onthou,” sê Van den Bergh.

Hy is in 2021 tydens die Mpumalanga Sporttoekennings as Sport Legende vereer vir sy lewenslange bydrae tot sport. Van den Bergh se sportjoernalistiek strek oor dekades. Hy het dikwels in die apartheidsera in die sop beland vir sy lojale ondersteuning aan swart sportmanne en -vroue.

Talle joernaliste, wat onder Van den Bergh se hand groot geword het, het aanbeweeg na nasionale en selfs internasionale mediahuise.

‘n Rolmodel

Daleen Naudé het by Van den Bergh die redakteur-loure oorgevat en stem saam dat hy ‘n reus in die koerantbedryf – nie net in Middelburg nie – was.

“Ek het 35 jaar saam met Tobie gewerk en het hy my álles geleer oor hoe om ’n goeie joernalis te wees. Hoe om deure oop te skop, maar ook om ’n omgee-hart te hê waar ons gemeenskap in pyn is. Tobie ek salueer jou. Dankie vir jou besondere leierskap.”

Caxton Local Media se nasionale redakteur Irma Green beaam: “Tobie is ‘n ikoon in die plaaslike mediabedryf. Hy ken die hart van plaaslike koerante en het in sy jare as redakteur van Middelburg Observer die kuns vervolmaak om nuus aan sy lesers te bied wat tot hul harte gespreek het.

“In sy 48 jaar in die bedryf was Tobie deel van die ontwikkeling in tegnologie wat van fone na selfone, fakse na e-posse tot ‘n omwenteling in die drukproses waar byna alles elektronies gebeur, insluit.

“Tobie het hom nie deur die digitale omwenteling in die bedryf laat afskrik nie en verlede jaar het Middelburg Observer se webwerf die meeste besoekers en artikels wat gelees is in Caxton Plaaslike Media gehad. Met twee gepubliseerder boeke uit sy pen, laat Tobie ‘n nalatenskap wat min kan ewenaar.”

Ink in sy are

In Ink is dikker as Bloed kry ’n mantra van hom gestalte: “Koerante gaan oor mense.” Die boek deel 129 stories oor helde, skurke, en almal tussenin.

Dié boek bestaan uit al die lekker en sleg wat joernalistiek vir hom ’n volle lewensmaal gemaak het – die voorgeregte, hoofgeregte en nageregte, met al die bestanddele wat sy skrywerstafel laat kreun het met gesogte toekennings deur die jare.

Daar was al talle demoniese aanvalle op hom, veral die afgelope vier jaar met terugflitse van tonele wat aanleiding gegee het tot die boek.

“Ek het wakker geword in die lykshuis, oorledenes by deure sien instap waar hul die laaste keer uit is,” deel hy met Middelburg Observer.

Hy delf diep, in detail, uit sy geheuevlugte, en sê dat die boek vir talle sal vrede bring, en hoofstukke sal afsluit.

Ink is dikker as Bloed strek oor talle dekades, en veral politieke figure en lede van geheime organisasies met selfbeskikkingsagendas, sal hulself herken in die blaaie, tesame met sportsterre en Jan en alleman.

@middelburgobserver Ink is Dikker as Bloed onthul – die derde boek van voormalige redakteur, Tobie van den Bergh, was gisteraand bekend gestel en kom met die waarborg dat dit jou sal laat lag en huil. #Middelburg #Tobievandenbergh #inkisdikkerasbloed #boekbekendstelling #booklaunch ♬ original sound – MiddelburgObserver

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button