Oscar Pistorius se paroolaansoek dalk nog vandeesmaand aangehoor, sê prokureur

Die gewese paralimpiese atleet se prokureur het bevestig dat Pistorius se paroolaansoek bes moontlik voor die einde van November vanjaar oorweeg sal word.

Oscar Pistorius se prokureur, Conrad Dormehl, sê sy kliënt se aansoek om parool kan moontlik binnekort plaasvind.

Die besluit kom nadat die Departement van Korrektiewe Dienste so ’n aansoek heroorweeg het na ’n bevel van die Konstitusionele Hof.

Pistorius is sedert 2016 in aanhouding nadat hy gevonnis is vir die skietdood van Reeva Steenkamp.

Die paroolaansoek sal volgens Dormehl voor die einde van November voor die Atteridgeville-gevangenis se paroolraad kan dien.

Daar lê egter nog ’n lang pad voor voordat enige uitslag rondom die aansoek gefinaliseer kan word.

Een hiervan is dat die paroolraad moontlik nie onmiddellik uitspraak sal lewer nie.

Dormehl het hierdie versekering oor November as afsnydatum gekry uit ’n kennisgewing wat hy van die Departement van Korrektiewe Dienste op 31 Oktober ontvang het.

Hy verduidelik die kennisgewing bevestig ook die department het reeds die slagoffers/beswaarmakers teen die paroolaansoek ingelig van die pad daarrondom.

Steenkamp se ma, June, sal as deel van die nuwe aansoek dus weer die geleentheid kry om die aansoek teen te staan.

Reeva se pa, Barry (80), is op 15 September vanjaar oorlede.

Die kennisgewing bevestig ook dat die paroolaansoek van Pistorius voor die einde van November vanjaar aangehoor sal word.

“Pistorius is ook ingelig dat hy van sy paroolverhoor se datum verwittig sal word sowel as die tydperk wat aan hom gegun sal word om die aansoek aan die paroolraad voor te berei,” verduidelik Dormehl.

Die datum van die verhoor is tans onbekend.

“Gegewe die kennisgewing se aard verwag ons egter dat my kliënt redelik binnekort hierdie datum sal verneem,” sê Dormehl.

Pistorius se eerste aansoek vanjaar om parool is op 31 Maart deur die department van die hand gewys.

Dit was op sterkte daarvan dat hy volgens hul berekenings nog nie in aanmerking vir parool kom nie.

Hy is ingelig dat ’n volgende aansoek eers in Augustus 2024 oorweeg sou word.

Op regsadvies het Pistorius hom egter tot die hoogste hof, die Konstitusionele Hof, gewend.

Hy wou hê die hof moet uitspraak lewer of hy nie reeds sy voorgeskrewe tyd in die gevangenis uitgedien het om vir parool in aanmerking te kom nie.

Hy wou sekerheid oor die datum kry aangesien verwarring oor die datum by die department sy paroolaansoek teruggehou het.

Die Konstitusionele Hof het in Oktober beslis dat Pistorius wel sedert 6 Julie 2016 vir parool in aanmerking kom.

Die datum is vasgestel volgens die dag waarop hy die eerste keer vir die moord op Steenkamp gevonnis is.

Sy vonnis van 13 jaar en vyf maande is na hierdie Julie-datum terug verwerk.

Die departement was in Maart tydens die hofsaak onder die indruk dat Pistorius nie sy minimum tyd van aanhouding uitgedien het nie.

Die verwarring kon ontstaan het aangesien vonnisoplegging deur die departement tot November 2017 teruggedateer is en sy vonnis op die moordklag verleng is.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button