Oud-Laevelder loop in die Kaap weer sy rieme styf

Victor Wilkens (39) se misdaadrekord strek tot in die Verenigde Koninkryke en sluit ondermeer die rig van 'n wapen en strafbare manslag in.

Die berugte, omstrede en veroordeelde Laevelder, Victor Wilkens (39), het wéér met die gereg gebots toe hy in Kaapstad vir diefstal en die besit van dwelms aangekeer is.

Wilkens is vroeër in Maart saam met ‘n vrou, Chole Jonker (40), daar vasgetrek.

Volgens Kaapstadse polisiewoordvoerder Kaptein Frederick van Wyk het ‘n sameloop van omstandighede, wat ‘n beweerde ontvoering of gyselaarsdrama, of beide, en ‘n foutiewe aflewering deur ‘n koeriermaatskappy insluit, daartoe gelei dat dié twee vasgetrek is.

Van Wyk het aan Laevelder gesê hulle het inligting oor ‘n 28-jarige vrou wat glo teen haar wil in ‘n agterstraatse hotel in die stad aangehou is, ontvang. Die vrou het egter daarin geslaag om te ontsnap.

Van Wyk sê die polisie het die strate in die omgewing van die hotel gefynkam en die slagoffer opgespoor.

Sy het inligting verskaf oor waar sy na bewering aangehou is en met die polisie se aankoms by dié gebou, het Jonker glo die deur oopgemaak.

Na ondervraging het sy glo vrywillig twee pakkies tik-dwelms aan die polisie oorhandig, sê Van Wyk.

Nadat hulle die kamer deursoek het, het die polisie op meer as 1 011 Mandrax-tablette asook ‘n hoeveelheid van ‘n bekende verkragtingsdwelm, bekend as ‘G Liquid’ (‘n vloeibare vorm van Ecstacy), gevind.

Die polisie het op meer as 1 011 Mandrax-tablette afgekom.

Volgens Van Wyk het Jonker inligting aan die polisie verskaf wat hulle na ‘n ander hotel daar naby gelei het. Hier is Wilkens in hegtenis geneem.

Hy sê tydens die speurders se opvolgwerk het dit aan die lig gekom dat Wilkens na bewering in Gauteng met verskeie ander misdade verbind word. Van Wyk kon egter nie onmiddellik sê by watter sake Wilkens betrokke is nie.

Die dwelms is intussen vir ontleding na die polisie se forensiese laboratoriums in Pretoria gestuur.

Volgens Eric Ntabazalila, die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, is ‘n klag van diefstal ook tot die klagstaat bygevoeg.

Hy sê die beweerde diefstal het tydens die polisieklopjag aan die lig gekom toe ‘n werker van ‘n koerierdiens gekla het oor ‘n pakkie wat hy verkeerdelik by Wilkens afgelewer het.

Die koerier moes wel ‘n ander pakkie by hom aflewer, maar het per ongeluk ‘n tweede een waarin ‘n skootrekenaar was, ook aan hom oorhandig.

Toe die koerier later probeer om die pakkie terug te kry, is hy glo deur Wilkens van bakboord na stuurboord gestuur. Hy het die polisie daarvan in kennis gestel.

Tydens die klopjag het die polisie toe wel die rekenaar opgespoor, en dit is intussen aan sy regmatige eienaar oorhandig.

Ntabazalila sê Wilkens en Jonker is op borgtog van R8 000 elk vrygelaat. Hulle verskyn weer op 19 Mei in die hof.

• Wilkens is ‘n familielid van die bekende Wilkens-familie wat vroeër onder meer die eienaars van Heidel Eiers was. Die wêreldbekende oudrofstoeier, Jan Wilkens, word allerweë beskou as die familie se patriarg.

• Victor se SAP69-misdaadrekord lees soos ’n draaiboek en strek tot in die Verenigde Koninkryke. Victor het ’n jaar tronkstraf in dié land gedien nadat hy skuldig gepleit het op ’n klag van strafbare manslag. Hy was by die dood van ’n Filippynse burger, Jaypee Maderazo (29), in Harlesden, Engeland, betrokke. Maderazo is destyds vermoor toe ’n dwelmtransaksie skeefgeloop het.

• In September 2015 is ’n klag van poging tot moord teen Victor laat vaar nadat sy destydse vriendin, Amanda Joubert, toe 24, in Januarie 2014 by sy woonstel in Hillside Manor afgeval het. Die staat het probeer bewys hy was daarvoor verantwoordelik. Die staat moes die saak egter noodgedwonge laat vaar omdat Joubert se hoofbeserings van só ’n ernstige aard was dat sy nie teen hom kon getuig nie.

• Hy en twee medebeskuldigdes het in November 2015 in die hof verskyn toe Yolande Redelinghuys na bewering buite die destydse Stables-nagklub deur hulle aangerand is. Laevelder kon nie onmiddellik vasstel wat die uitslag van hierdie hofsaak was nie.

• Gedurende Mei 2017 is Victor deur die Boschkoppolisie naby Pretoria op ’n klag van die rig van ’n vuurwapen toegesluit. Dit was ’n ongelisensieerde wapen. Die voorval spruit uit een waarin Victor glo ’n buurvrou se hond met ’n mes gesteek het, nadat sy Jack Russell deur dié hond gebyt is. Toe sy hom daaroor gekonfronteer het, het hy haar met ’n vuurwapen gedreig. Ná die voorval het hy enkele dae in die tronk deurgebring.

• Victor het jare gelede die wenkbroue laat lig met sy betrokkenheid by ’n ontkleeklub in Mbombela en ’n gesellinklub in Pretoria. Hy het dié klub in 2017 op Facebook geadverteer en het per geleentheid van sy ‘werkers’ stad toe gebring, soos hy dit gestel het: “…to spoil all our fellow gents in Mbombela.

Read original story on lowvelder.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button