Oudtshoorn-kinders se aanranding: Egpaar kry borg

'n Man en vrou wat beskuldig word van die aanranding op drie kinders, se persoonlike omstandighede en hulle minderjarige kind is in ag geneem tydens hulle borgtogaansoek.

Beide Gerda en James Tait is vandag op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.

Die borgtogaansoeke van die beskuldigdes, wat by die beweerde aanranding van drie kinders vroeër vandeesmaand betrokke was, het Maandag begin.

Johann Scholtz (75), Gerda (53) en James Tait (55), asook Wayne Ellis (43) het voorgekom.

Oudtshoorn Courant berig aangesien Scholtz op parool was tydens die voorval het hy sy aansoek laat vaar. Ellis is reeds verlede week op borgtog van R5 000 vrygelaat. Dus was slegs Gerda en James se aansoeke ter sprake. Die aansoek het gedien voor Landdros Ntombizandile Maseti en Lourens Swanepoel van Coetzee en Van der Bergh Prokureurs tree vir die beskuldigdes op.

Volgens die landdros het sy die beskuldigdes se persoonlike omstandighede in ag geneem en ook die feit dat hulle ’n minderjarige kind by die huis het.

Sy het ook streng borgtogvoorwaardes voorgehou wat insluit dat hulle Maandae en Vrydae by die polisiestasie moet aanmeld, nie by ander misdrywe betrokke raak nie, nie met getuies inmeng nie, nie op sosiale media kommentaar lewer nie en hulle mag ook nie die dorp verlaat sonder die ondersoekbeampte se toestemming nie.

Verder het sy ook gesê dat hulle hul borgtog kan verbeur sou hulle die voorwaardes oortree.

Maseti het bygevoeg dat die beskuldigdes die reg het om met hulle lewens voort te gaan omdat die saak nog lank gaan duur.

Die saak is tot 15 April uitgestel.

Dié week se gebeure in die hof

Maandag

Die eerste getuie wat deur die staat se Thuba Nyamate geroep is, was die onder-soekbeampte, Konstabel Tazaan Hamman. Hy het kortliks oor die gebeure van 13 Februarie getuig.

Volgens hom het James op dié dag ‘n boodskap op AfriForum se buurtwaggroep ontvang oor straatkinders wat glo skoolkinders beroof het. Die egpaar en nog twee persone het met James se bakkie gery en op die hoek van Kruid- en St. Saviourstraat opgemerk dat die kinders glo in ‘n argument met ‘n winkeleienaar was. Een van die kinders het glo ‘n baksteen in die hand gehad, maar het dit laat val en weggestap.

Ellis het ook by die toneel opgedaag en voor die kinders stilgehou terwyl die egpaar agter hulle stilgehou het. James het glo met ‘n stuk plastiekpyp in sy hand uitgeklim en die kinders beveel om die messe te oorhandig.

Een van die kinders het toe weggehardloop en James het die ander twee kinders op sy bakkie gelaai en hom agternagesit. Ellis en nog ‘n persoon het vir James gevolg. Volgens Hamman moet dié persoon nog gearresteer word.

Die kind wat weggehardloop het, is op die hoek van Kruid- en Van der Rietstraat voorgekeer en saam met die ander twee kinders deur die egpaar en Ellis vasgekeer en gekonfronteer. Volgens Hamman het Ellis ‘n gaspistool by hom gehad.

Gerda het glo die pyp wat James gehad het geneem, en die kinders daarmee geslaan. Intussen het Scholtz by die toneel opgedaag en glo met ‘n verfbalgeweer op die kinders geskiet.

Dit is op daardie stadium dat ‘n polisiebeampte, wat van diens af was, met sy vrou en kind by die toneel verbygery het en die video geneem het. Die video is op Facebook geplaas en het soos ‘n veldbrand versprei. Nyamate het gevra waarom die beampte nie ingegryp het nie. Volgens Hamman het hy bedreig gevoel en sy vrou en kind was by hom.

Volgens Hamman is daar op 13 Februarie geen voorval, waar kinders beroof is, by die polisie aangemeld nie. Hamman sê die beskuldigdes het reg in eie hande geneem in plaas daarvan om die polisie te ontbied.

Die polisielid het dit ook nie aangemeld nie. Die dossier is eers die volgende dag geopen.

Hamman het borgtog teengestaan op grond van publieke belang, die erns van die klagte en beweerde intimidasie van ‘n polisielid. Hy beskou ook AfriForum se klag by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oor die lid se optrede as indirekte intimidasie en meen Ellis se borgtog behoort teruggetrek te word.

Swanepoel het aangevoer dat borgtog ‘n grondwetlike reg is en nie skuld of onskuld bepaal nie. Hy het verder uitgewys dat Ellis reeds dae lank op borgtog is sonder enige openbare onrus.

Volgens Hamman is die ondersoek bykans 90% afgehandel, waarop Swanepoel aangevoer het dat die risiko van getuie-intimidasie of inmenging dus minimaal is.

Dinsdag

Leon Campher het namens Oudtshoorn Community Against Crime ‘n memorandum aan die hof oorhandig met ‘n petisie van 360 handtekeninge waarin die hof versoek word om nie borgtog toe te staan nie.

Volgens Campher was daar nog 100 aanlyn handtekeninge. Hy het telkens na die video verwys en gesê dit is duidelik dat ‘n misdaad gepleeg is en dat die erns van die misdaad van so ‘n aard is dat borgtog nie toegestaan moet word nie.

Swanepoel het dit aan hom gestel dat hy skynbaar reeds besluit het dat die beskuldigdes skuldig is ten spyte daarvan dat die verhoor nog nie plaasgevind het.

Volgens Swanepoel is daar ook geen aanduiding van vrees of openbare onrus binne die gemeenskap waar die beskuldigdes vrygelaat gaan word as borgtog toegestaan sou word nie.

Swanepoel het tydens sy vertoë gesê die hof se beslissing moenie deur openbare mening beïnvloed word nie en dat borgtog nie weerhou moet word as straf nie. Hy het daarop gewys dat inligting wat op Scholtz en Ellis betrekking het, nie in aanmerking geneem kan word nie aangesien slegs Gerda en James ter sprake is.

Daar is geen getuienis voor die hof wat daarop dui dat die beskuldigdes ‘n vlugrisiko is of ‘n gevaar vir die gemeenskap is nie. Swanepoel het gesê dat hulle gevestigde inwoners van Oudtshoorn is en twee kinders het wat van hulle afhanklik is. Hy het ook genoem dat daar geen bewys is dat die beskuldigdes met voorbedagte rade opgetree het nie.

Nyamate het gesê dat die beskuldigdes se verbintenis met AfriForum in ag geneem moet word wanneer borgtog oorweeg word aangesien die klag wat by Opod gelê is, gesien kan word as inmenging met die ondersoek. Hy het ook gesê dat die staat oor genoeg getuienis beskik dat ‘n misdaad plaasgevind het en dat borgtog geweier moet word.

Woensdag

Swanepoel het twee aansoeke voor die hof gebring, wat deur die landdros oorweeg moes word.

Die eerste aansoek hou verband met steun uit die gemeenskap vir die toestaan van borgtog. Volgens Swanepoel het 141 lede van die Noord-WhatsApp-groep ten gunste van borgtog gestem, terwyl die groep se administrateur 172 boodskappe ontvang het van persone wat ook borgtog ondersteun.

Die tweede aansoek handel oor die staat se verwysing na die klag wat by Opod ingedien is, en wat volgens die staat as moontlike intimidasie van getuies beskou kan word.

Swanepoel het egter aangevoer dat die aanklaer se inligting verkeerd was en dat die klag reeds op 18 Februarie gelê is. Hy het verder daarop gewys dat Ellis reeds op daardie stadium in aanhouding was, en dat die klag dus nie ná hy borgtog toegestaan is, gelê is nie. 

Hy het ook gesê dat die hof se besluit nie beïnvloed moet word deur die staat se argument dat die beskuldigdes se verbintenis met AfriForum rede vir die weiering van borgtog kan wees nie. Swanepoel het na ‘n appèlsaak verwys waarin die appèlhof beslis het dat ‘n beskuldigde nie borg geweier kan word bloot op grond van sy lidmaatskap van ‘n organisasie nie, en dat borgtog in daardie geval toegestaan moes word.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Hannes Visser & Liezl van Niekerk

Hierdie berig is geskryf deur joernaliste van Oudtshoorn Courant.
Back to top button