Plaasmoord in Mpumalanga: Veearts tweede slagoffer in een week

Dr. Jesse Coleman (73), wat glo sy vrou in 2017 in dieselfde plaashuis waarin hy vermoor is, geskiet het, is vyf dae na Gideon Swart (52) vermoor.

Twee moorde binne ‘n week het die gemeenskap van Mpumalanga in rep en roer.

Die 73-jarige dr. Jesse Coleman se liggaam is Dinsdagoggend in ’n plas bloed langs sy geweerkluis in die sitkamer op die plaas Klipspruit tussen Delmas en Bronkhorstspruit gevind.

Werkers op dié plaas in die Waaikraal-omgewing het op die vermoorde veearts se lyk afgekom.

Met Streeknuus se aankoms op die toneel kon die bloedspoor na die plek waar Coleman gevind is, gevolg word. Volgens sy familie is Coleman erg gemartel voor sy dood.

Hy het verskeie snywonde aan sy bene en knieë en ’n groot wond aan sy kop. Die moordenaars het glo by die huis se agterdeur ingebreek.

Dit blyk egter asof Coleman nie dood is sonder om hom teen die aanvallers te probeer verset nie. Twee koeëlgate uit sy haelgeweer is duidelik sigbaar in die kombuisdeur en in die eetkamer.

’n Haelgeweerskoot deur die agterdeur van die plaashuis.

Die ander boer, Gideon Swart (52) van Waterval Boven, se liggaam is op 23 September deur sy broer buite sy plaashuis ontdek. Swart is ook vele steekwonde op sy maag, rug en nek toegedien.

Volgens betroubare inligting is een van die drie steekwonde aan die agterkant van sy nek die oorsaak van sy dood.

AfriForum se streekshoof  vir veiligheid in die Noordstreek, Llewellyn Hemmens het aan Streeknuus bevestig dat daar sedert 23 September reeds ses plaasaanvalle, waarvan drie moorde is, plaasgevind het in die omgewing.

“Ons wil ons boere maan om uiters waaksaam te wees. Moenie vir enige rede uit jou huis gelok word nie. Selfs nie vir elektrisiteit wat skielik afgaan of as daar iets by jou diere sou foutgaan nie. Skakel in by jou plaaslike veiligheidstrukture en maak gebruik van radiokontak,” het Hemmens gesê.

Die huis op die plaas Klipspruit in die Waaikraal-omgewing tussen Delmas en Bronkhorstspruit.

Moord op veearts is tweede tragedie in plaashuis

Coleman het in die plaashuis waar hy vermoor is, sy vrou, Trysie, in 2017 per abuis in die maag geskiet. Coleman het omstreeks 04:00 op die oggend van 5 Mei 2017 op die tweede aktivering van hulle huisalarm gereageer.

Hy het glo die slaapkamerdeur oopgemaak en op dieselfde oomblik het Trysie die deur van die anderkant oopgestoot.

Die egpaar het inmekaar vasgeloop, Trysie het glo gegil en op daardie oomblik het ’n skoot afgegaan.

Hulp was ontbied waarna Trysie in ’n kritieke toestand per helikopter na die Millpark Hospitaal vervoer is.

Sy het wel die skietwond oorleef en die egpaar is intussen geskei.

Coleman was ’n veearts wat die grootste gedeelte van sy lewe sy praktyk in Benoni bedryf het.

Hy het op die plaas Klipspruit grootgeword en het ná sy ouers se dood, die boerdery op die plaas voorgesit.

Read original story on ridgetimes.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button