Sanger oor TikTok se terugtrek van skorsing: “Ek is niemand se soet seuntjie nie”

Sanger Armand Hofmeyr is terug op sosiale media platform TikTok na sy skorsing. Hy sê hy het sy les geleer.

Die sanger Armand Hofmeyr is in sy noppies nadat sy profiel op die sosiale media platform TikTok herstel is.

In die beeldmateriaal, is gewere en ’n dooie voël duidelik sigbaar.

Die video wat tot die herrie gelei het, is egter nie meer op Hofmeyr se profiel nie.

Hy het aangedui hierdie skorsing is volgens hom onregverdig en sou appèl aanteken.

’n Tik Tok-profiel kan sewe dae na so ’n skorsing herstel word indien die administrateurs van die platform so besluit.

“Ek het beslis beswaar daarteen gemaak. Ek wou nie al die inhoud wat ons met moeite opgebou het, verloor nie,” meen Hofmeyr.

Voor die herrie oor die sluiting van sy profiel het Hofmeyr 25 000 volgelinge gehad. Binne ‘n paar dae het die aantal na meer as 27 000 gestyg.

Hy het nadat sy profiel geblok is op Facebook aan sy bewonderaars verduidelik dat hulle nie meer van sy video’s op TikTok sal kan kyk nie.

Verskeie dierewelsynsorganisasies soos die Dierebeskermingsvereniging en Ban Animal Trading het standpunt ingeneem met die skorsing.

Die organisasies is ten gunste van TikTok se reëls oor jagvideo’s en dat dooie diere nie op die platform gewys mag word nie.

Hofmeyr het grepe uit die video op Facebook gewys wat sy jagekspedisie saam met vriende op Roedtan in die veld toon.

Hy verduidelik dat hy in die bosveld grootgeword het. Die voëljag-ekspedisie is ’n jaarlikse instelling saam met vriende en familie.

Die jagtog word veral aangepak volgens Hofmeyr om tarentale te verhoed om saad tydens die plantseisoen op te vreet.

“Ek het vir jare nie KFC geëet nie. Ek eet tarentaalvleis al my lewe lank.”

Gewere is deurlopend te sien op die video en Hofmeyr hou ’n dooie tarentaal in sy hande vas.

Profiele op TikTok kan verwyder word wanneer gemeenskapsreëls oortree word.

’n Profiel kan ook afgehaal word wanneer iemand aangegee word vir inhoud wat aanstoot gee.

Hofmeyr het aan Pretoria Rekord gesê hy is bly oor die herstel van sy profiel.

“Ek het wel ’n les geleer. Sommige mense kan jou aangee en dan word jy geblok,” se die sanger van treffers soos “Partytjie Slaap Herhaal” en “Marie”.

Hy is ook die seun van bekende sanger Steve Hofmeyr.

Hy is egter steeds gegrief omdat daar volgens hom veel erger video’s te sien is op TikTok waaraan daar niks gedoen word nie.

“Ek dink steeds mense moet leer wie ek is en my nie oordeel omdat hulle dink ek is iets of iemand anders nie.”

Hofmeyr voel hy wil erken word vir wie hy werklik is. Hy wil nie volgens ander se verwagtinge van hom lewe nie.

“Ek jag, doen sokkie-musiek, is lief om te kuier en lewe my eie lewe. Ek is niemand se soet seuntjie nie.”

Sy profiel op TikTok het voor die skorsing op 25 000 TikTok-gebruikers gestaan. Na die tydelike skorsing het die getal tot oor 27 000 gestyg.

Sanger Armand Hofmeyr is in sy noppies dat sy TikTok-profiel herstel is.

Hofmeyr voltooi tans ’n landwye toer op 4 Augustus in Kaapstad.

Sy nuwe enkelsnit word eersdaags uitgereik maar voorlopig word die titel geheim gehou.

“Dit gaan my beste sokkie-treffer ooit wees,” sluit hy af.

Read original story on rekord.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button