Sekuriteitswag neem foto van maanhaar naby Meyerton
Inwoners van Redan is versoek om hulself en hulle troeteldiere binnenshuis te hou terwyl 'n soektog na 'n leeu voortduur.
’n Soektog na ’n leeu is vanoggend (14 Oktober) in Redan, tussen Vereeniging en Meyerton, aan die gang nadat ’n veiligheidswag die dier na bewering omstreeks 03:50 opgemerk het.
Ithumeleng Mobadi, die veiligheidswag wat die dier na bewering eerste gewaar het, het aan Vaalweekblad vertel hoe hy tydens sy patrollie op die dier afgekom het.
Volgens Mobadi was hy op pad vanaf ’n boorgat toe hy vreemde geluide naby ’n paal aan die oostekant van Redan gehoor het.
Hy het stilgehou en sy selfoon se flitslig aangeskakel om ondersoek in te stel.
“Ek het aanvanklik gedink dit is dalk ’n kat of iets,” het hy vertel.
Toe hy sy lig op die dier skyn, het hy egter besef dit is baie groter as wat hy verwag het. Hy het sy flitslig afgeskakel en daarin geslaag om ’n foto van die dier te neem.
Volgens Mobadi het die dier daarna in ’n suidelike rigting weggehardloop, waarna hy self ook op die vlug geslaan het.
Op die vraag of hy bang was, het hy sonder huiwering geantwoord: “I was so scared.”
Kobus Jordaan, ’n inwoner wat op die toneel is, het bevestig dat die polisie teenwoordig is en ’n hommeltuig met hittebeeldtegnologie gebruik om na die dier te soek.
“Ons is hier. Die polisie is hier by ons,” sê Jordaan. “Ons kyk nou maar ons sien nie enige iets op die oomblik.”
Volgens hom duur die soektog reeds sedert ongeveer 04:00.
In WhatsApp-waarskuwings aan huurders is hulle versoek om binnenshuis te bly en hulle troeteldiere binne te hou.
Bloufontein Wildlife Park het intussen in ’n verklaring gesê die leeu waarvan berig word, behoort nie aan die park nie. Volgens die bestuur is al sy diere nagegaan en word geen leeus of ander diere vermis nie.
Waar die dier vandaan kom en waar hy hom tans bevind, is nog nie bevestig nie.
Die voorval herinner aan die soektog na Sheba, ’n tierwyfie wat in Januarie 2023 uit haar kamp op Rassie Erasmus se kleinhoewe in die Walkerville-gebied ontsnap het. Sy het ’n man beseer en diere aangeval voordat sy op 18 Januarie doodgeskiet is nadat daar besluit is dat sy nie veilig gevang kon word nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za