Soektog na leeuwyfie in Redan
Inwoners is gewaarsku nadat ’n leeuwyfie glo vroeg vanoggend in die gebied opgemerk is.
REDAN – ’n Soektog is vanoggend, 14 Oktober, in Redan aan die gang nadat ’n leeu glo omstreeks 04:00 opgemerk is.
Kobus Jordaan, ‘n inwoner wat op die toneel is, het bevestig dat die polisie teenwoordig is en ’n hommeltuig met hittebeeldtegnologie gebruik word om na die dier te soek.
“Ons is hier. Die polisie is hier by ons,” sê Jordaan. “Ons kyk nou maar ons sien nie enige iets op die oomblik.”
Volgens hom duur die soektog reeds sedert 04:00.
In WhatsApp-waarskuwings aan huurders word beweer dat ’n veiligheidswag die dier omstreeks 03:50 gesien het. Die wag kon daarin slaag om ‘n foto van die dier te neem. Huurders is versoek om binnenshuis te bly en hul troeteldiere binne te hou.
Bloufontein Wildlife Park het intussen in ’n verklaring gesê die leeu waarvan berig word, behoort nie aan die park nie. Volgens die bestuur is al sy diere nagegaan en word geen leeus of ander diere vermis nie.
Waar die dier vandaan ko men wat die huidige ligging is is nog nie bevestig nie.
Die voorval herinner aan die soektog na Sheba, ’n tierwyfie wat in Januarie 2023 uit haar kamp op Rassie Erasmus se kleinhoewe in die Walkerville-gebied ontsnap het. Sy het ’n man beseer en diere aangeval voordat sy op 18 Januarie doodgeskiet is nadat daar besluit is dat sy nie veilig gevang kon word nie.
