Senutergende oomblikke in Vereeniging toe man dreig om te spring

Paniekerige inwoners van 'n woonstelblok in die suide van Gauteng het inderhaas hulp ontbied toe dit lyk asof 'n man van die boonste verdieping af wou spring.

‘n Man van Vereeniging het Dinsdag (19 Mei) gedreig om van die boonste verdieping van ‘n woonstelblok af te spring.

Volgens Vaalweekblad, het bekommerde inwoners van Arcon Heights in Arcon Park dadelik Sekuriteit Sonder Grense se paniekknoppie gedruk. Dié sekuriteitsmaatskappy het vinnig gereageer en was eerste op die toneel.

Op ‘n foto wat deur ‘n lid van die publiek aan Vaalweekblad verskaf is, lyk dit asof die man op ‘n trapreëling op die boonste verdieping staan.

Frontline of Hope, wat in sulke gevalle spesialiseer en gereeld op noodtonele bystand verleen, is ook ingeroep om te help.

Verskeie verbygangers het noodvoertuie by die toneel opgemerk en vinnig besef wat besig is om te gebeur.

Volgens een van die omstanders wat Vaalweekblad gekontak het, het dit soms gelyk asof die man gaan spring.

Later is daar opgemerk hoe ’n onbekende persoon sy hand uit ’n nabygeleë venster na die man uitreik.

Dit het gelyk asof die man geluister het. Hy het ná ’n paar minute, met die hulp van die gemeenskap, na veiligheid afgeklim.

‘n Foto van die toneel en die man wat gedreig het om te spring. Foto: Verskaf

“Dit bly altyd ’n wonderwerk wanneer ’n lewe gered word. Ek dank elke persoon wat gehelp het met die reddingspoging en wil graag die betrokke partye uitnooi om Frontline of Hope te kontak vir ’n ontladingsessie. Hulle kan my skakel by 082 809 2141,” sê Lance Oosthuizen, kapelaan van Frontline of Hope.

Sekuriteit Sonder Grense (SSG) was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Kontak dié organisasies vir hulp:

  • SADAG (South African Depression and Anxiety Group): 0800 567 567
  • Selfdoodkrisis-lyn: 0800 567 567
  • Lifeline Suid-Afrika: 0861 322 322

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button