Senutergende oomblikke toe man dreig om te spring
As jy of iemand wat jy ken met donker gedagtes worstel, weet asseblief dat daar gratis, vertroulike hulp beskikbaar is. Jy hoef dit nie alleen te dra nie.
VEREENIGING – Inwoners van Arcon Heights in Arcon Park het gister (19 Mei) ’n senutergende dag beleef toe ’n man gedreig het om van die hoogste verdieping van die gebou af te spring.
Bekommerde inwoners het dadelik Sekuriteit Sonder Grense se paniekknoppie gedruk, wat op hul beurt vinnig gereageer het en eerste op die toneel was.
Frontline of Hope, wat in sulke gevalle spesialiseer en ook gereeld op noodtonele bystand verleen, is ook ingeroep om te help.
Soos dikwels gebeur, was daar verskeie verbygangers wat die noodvoertuie opgemerk en vinnig besef het wat aan die gebeur was.
Sekuriteit Sonder Grense het egter die mense gevra om nie verder tot die intense oomblik by te dra deur met hul selfone foto’s te neem nie.
Volgens een van die omstanders wat Vaalweekblad gekontak het, het dit soms gelyk asof die man gaan spring.
Later is daar opgemerk hoe ’n onbekende persoon sy hand uit ’n nabygeleë venster na die man uitreik.
Dit het gelyk asof die man geluister het, en ná ’n paar minute, met die hulp van die gemeenskap, het hy na veiligheid afgeklim.
“Dit bly altyd ’n wonderwerk wanneer ’n lewe gered word. Ek dank elke persoon wat gehelp het met die reddingspoging en wil graag die betrokke partye uitnooi om Frontline of Hope te kontak vir ’n ontladingsessie. Hulle kan my skakel by 082 809 2141,” sê Lance Oosthuizen, kapelaan van Frontline of Hope.
* Sekuriteit Sonder Grense (SSG) was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Belangrike hulpbronne in Suid-Afrika:
SADAG (South African Depression and Anxiety Group): 0800 567 567
Selfdoodkrisis-lyn: 0800 567 567
Lifeline Suid-Afrika: 0861 322 322

