Skoonsuster in die hof ná moord op vermiste eMalahleni man
‘n 29-jarige ma van twee het vanmiddag vlugtig in die Witbank Landdroshof verskyn op 'n aanklag van moord op haar swaer.
Melissa Vice het vanmiddag vlugtig in die Witbank Landdros verkyn in verband met die moord op haar swaer, Willie Visser.
Witbank Nuus berig dat die saak uitgestel is tot 14 Januarie en dat sy in aanhouding bly tot haar borgaansoek.
Vice se regsverteenwoordiger het aangedui dat hy van voorneme is om haar te stuur vir observasie om haar geestestoestand vas te stel.
’n Merkbare bleek Vice het strak voor haar uitgestaar in die beskuldigdebank en sag geantwoord toe sy gevra is of daar enige vorige of uitstaande sake teen haar is.
Sy is op 24 Desember gearrsteer en het die afgelope naweek in aanhouding deurgebring.
Haar verskyning volg nadat Visser se liggaam op 16 Desember in Seekoeiwater gevind is.
Hul skoonma, Ina Vice, het Visser as vermis aangemeld nadat sy hom in die oggend in Reynorif afgelaai het.
Sy het haar tot die plaaslike Zello-kanaal gewend vir hulp nadat hy nie by die huis opgedaag het nie.
‘n Verbyganger het later die middag op sy liggaam afgekom.
Volgens polisiewoordvoerder kaptein Eddie Hall wil dit voorkom of Visser elders vermoor is en dat sy liggaam daarna geskuif is na die toneel waar dit gevind is.
“Die oorledene het kneusplekke aan sy gesig, arms en maag gehad het en was vermoedelik met ’n stomp voorwerp geslaan,” het Hall gesê.
Ma huil saggies in die hof
Visser se ma, Karina Visser, het agter in die hof gesit en stilweg haar trane afgevee.
“Niks gaan my seun terugbring nie,” het sy gesê. Sy het hom ‘haar baby’ genoem.
“Ons soek net antwoorde. Ek het die hele nag in die strate op en afgery opsoek na my boetie,” het Hanri Visser, die oonledene se suster gesê.
Sy het gesê hulle is eers op 17 Desember verwittig dat Visser se liggaam gevind is.
“My boetie se dogtertjie is beroof van haar pappa. Sy is te klein om te besef wat aangaan.”

*Die oorspronklike berig is aangepas.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za