Só fnuik Pretorianers kabeldiewe
Die smeermiddelplan van 'n groep inwoners van Wonderboompoort is suksesvol om kabeldiewe in hul spore te stuit en word nou herhaal.
Die Gemeenskapsforum in Wonderboompoort Sektor 2 se plan om kabeldiewe te fnuik is só suksesvol dat geen kabels in die area vir sewe maande gesteel is nie.
“Hierdie plan het 100% by ons gewerk om kabeldiefstal te verhoed,” sê voorsitter Albert Michau.
Michau verduidelik ’n span van 12 vrywilligers smeer die kragpale op ’n hoogte vanaf 3m vir sowat ’n meter met ghries.
Die span onder Michau se leiding bestaan uit Rinus de Bruyn, Johan Scholtz, Hennie van der Merwe, Mark van
Heerden, Covan van Niekerk, Ruan de Bruyn, Adrie de Bruyn, Letanya Scholtz, Sella de Bruyn, Vissie de Bruyn, Frik Booysen, en Albie Fischet.
Met ’n 20kg-houer smeermiddel kan sowat 80 tot 100 pale gesmeer word. Die forum het R2 000 in donasies vir die projek sowel as smeermiddel as skenkings gekry.
Die glyerige area op die pale verhoed diewe om die pale uit te klim.
Sodoende kan hulle planne om die kragpale op te klim, die kabels te knip en weg te dra, nie uitgevoer word nie.
“Hulle kan nie die kabels bereik om hulle te knip en af te ruk nie. Die kragpale is eenvoudig te glad om te klim,” verduidelik Michau.
Michau en sy span beskik oor videos waar gesien kan word wat die metode van sulke kabeldiewe is.
Twee kabelstropers word gewoonlik afgelaai by ’n paal. Een staan op die ander se rug en klim dan die paal met toerusting om die drade af te knip.
Die ander een hou wag en maak ’n selfoonoproep vir hulle makkers om hulle weer op te laai wanneer die kabels in hulle besit is.
Michau en sy span het egter ook ’n video nou in hulle besit wat die teendeel bewys.
Die video is net nadat die kragpale die eerste keer vanjaar in Februarie geghries is.
Die kabeldiewe kom by die kragpaal aan, merk die gladde area op en gee moed op sonder dat die paal uitgeklim word.
Michau sê die oomblik toe dit in Julie blyk dat die pale weer geghries moet word, het hy en sy span weer die strate van Roseville, Eloffsdal, Les Marais, Mayville en Wonderboom-Suid ingevaar.
Voorkoming dié plan se sukses
’n Bakkie is met ’n spesiale raampie toegerus om die griessmeerproses op die regte hoogte makliker te maak.
Michau vermoed blootstelling aan wind en weer het moontlik die ghries mettertyd minder doeltreffend gemaak.
Hy verduidelik omdat die plan egter so goed gewerk het, het hy en die span besluit om weer met die smeermiddel in te spring.
“Ons het mos nou bewese sukses!”
David Mills, ’n veiligheidskundige van die Mills Services Group, meen die projek is ’n sukses omdat dit op voorkoming toegespits is.
Die sukses daarvan skryf hy ook toe daaraan dat die diewe verhoed is om hulle planne uit te voer.
“Sulke projekte word gou deur riemtelegramme onder die moontlike skuldiges versprei en dien ook as waarskuwing en afskrikmiddel.”
Mills is ten gunste van gemeenskapsinisiatiewe soos die smeermiddelprojek.
“Ons is baie gelukkig as veilgheidsgemeenskap wanneer mense verantwoordelikheid neem vir hul omgewing se veiligheid en met ons hande neem om dit te verseker. Met hierdie projek het die projekleier en sy span werklik verbeeldingryke denke in aksie omgesit en almal daardeur laat baat.”
Read original story on rekord.co.za