Student dood in Potchefstroom-koshuis se stoorkamer gevind
'n Koshuisvader en ‘n student het glo op die liggaam van 'n regsstudent afgekom nadat hulle hom gaan soek het.
‘n Regsstudent (21) is gisteroggend in ‘n stoor van ‘n koshuis op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus gevind.
Volgens Potchefstroom Herald, sê Luitenant Kolonel Sam Tselanyane, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, die polisie doen ‘n geregtelike doodsondersoek nadat die liggaam van ‘n mansstudent op kampus gevind is.
Die koshuisvader en ‘n student het glo op sy liggaam afgekom nadat hulle hom gaan soek het, omdat hulle hom nie in die hande kon kry nie. Paramedici het die student op die toneel dood verklaar.
Louis Jacobs, die NWU se woordvoerder, het aan die koerant gesê die universiteit sal in hierdie stadium die student se identiteit weerhou omdat sy ouers hom nog moet uitken en ook omdat daar ‘n ondersoek deur die polisie gedoen word.
“Sy ouers is op pad en sal vandag hier wees. Ons sal alles doen wat ons kan om die ouers by te staan en ook vir hulle behuising deur hierdie moeilike tyd verskaf.”
Jacobs verduidelik dat die universiteit onmiddelik vir die student en personeel berading gereël het.
“Dit is vir die universiteit altyd bitter sleg wanneer ons ‘n student verloor, ongeag wat die omstandighede is.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za