Tiener van Potchefstroom sterf ná stryd teen swamsiekte
Mariné Pretorius (13) het vanmiddag haar laaste asem uitgeblaas nadat sy byna ‘n maand lank in 'n hospitaal teen ‘n seldsame siekte geveg het.
‘n Tiener van Potchefstroom in die Noordwes is vanmiddag net na 13:00 oorlede na sy vir die afgelope drie weke teen ‘n seldsame swamsiekte geveg het, berig Potchefstroom Herald.
Mariné Pretorius (13), ‘n Graad 8-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, is gisteroggend op ‘n ventilator geplaas nadat daar kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op haar toegepas is. Dokters het wéér vanmiddag KPR toegepas, maar met geen sukses nie, het haar familie op ‘n WhatsApp-groep gedeel.
Haar ma, Senobia, het vanoggend genoem dat die bloeding uit haar neus gestop het, nadat haar neus gister baie gebloei het. Daar was ook sprake dat sy haar breinfunksie stelselmatig begin verloor het. Sy was die afgelope tyd in die intensiewe sorgeenheid waar dokters haar gemonitor het.

Sy her verskeie simptome ervaar wat haar in ‘n kritieke toestand geplaas het. Dit sluit in haar longe wat met vog gevul was, sowel as haar niere wat nie wou werk nie.
Potchefstroom Herald het voorheen berig dat Mariné ’n verskeidenheid bloed- en X-straaltoetse sowel as CT-skanderings moes ondergaan sodat dokters haar kon diagnoseer.
Haar niere het ophou werk en ná twee weke in die hospitaalsaal is sy 24 Februarie na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas.
Dokters kon toe uiteindelik vasstel dat sy ’n swam in haar longe het wat ook ’n infeksie in haar bloed veroorsaak.
Medelyne op sosiale media
Leerders van die skool het ook hulle medelye op sosiale media gedeel. Hulle het vroeër vanoggend ook vir Mariné in gebed opgedra.
“Ons menslike verstand kan nooit ten volle sulke dinge begryp nie, maar ons hou vas aan die beloftes van ons Here. Ons gebede dra haar familie en vriende in hierdie tyd van rou. Mariné was vir ons net vir ’n kort tydjie geleen, maar haar impak en liefde sal vir baie lank voortleef in die harte van almal wat haar geken het,” het Volkies, soos die skool bekendstaan, op hul Facebook-blad geplaas.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za