Tiener veg vir haar lewe in die hospitaal
Mariné Pretorius, ’n Graad 8-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, moes ’n verskeidenheid bloed- en X-straaltoetse sowel as CT-skanderings ondergaan voordat 'n swam in haar longe opgespoor is.
Die 13-jarige Mariné Pretorius het die gebede en hulp van die Potch gemeenskap nodig nadat sy die afgelope drie weke teen ’n swamsiekte in die hospitaal baklei.
Mariné, ’n Graad 8-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom, moes ’n verskeidenheid bloed- en X-straaltoetse sowel as CT-skanderings ondergaan sodat dokters haar kon diagnoseer.
Haar niere het begin ophou werk en ná twee weke in die hospitaalsaal is sy die afgelope Dinsdag, 24 Februarie na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas.
Dokters kon toe uiteindelik vasstel dat sy ’n swam in haar longe het wat ook ’n infeksie in haar bloed veroorsaak. Sy is tans op twee verskillende antibiotika. Mariné se organe, veral haar niere, is ook aangetas, met die gevolg dat sy dringend dialise moet ontvang. Die probleem is dat daar tans vir ’n oop hospitaalbed in Klerksdorp gewag word.

Haar ma, Senobia Snyman, noem dat Mariné se siektetoestand met maagpyn begin het.
“Sy was naar en het maagpyn gehad. Dit was op en af en sy het nog steeds skool gegaan. Ek het pynpille gegee, maar sy het toe begin ophou eet,” vertel Senobia.
Senobia vertel dat haar dogter die volgende week ná die naweek nie goed gelyk het nie en dat sy toe dokter toe is. Daar is vermoed dat sy nierstene het en dat sy ’n sonar moet ondergaan om dit te bevestig.
“Daar is nie nierstene by haar opgespoor nie. Sy was in erge pyn en haar infeksietelling was oor die 300. Sy is daardie Woensdagoggend (twee weke gelede) in Potchefstroom Hospitaal opgeneem.”
Senobia sê dat die dokters vir weke nie kon vasstel wat met Mariné fout is nie. Wat sake vererger het, is dat sy longontsteking opgedoen het en bitter min geëet het.

“Sy het net so twee happies van haar kos geneem en ’n halwe 1,5 liter water gedrink. Sy het baie verswak. Nadat hulle haar na die intensiewesorgeenheid geneem het, het die dokters ook vir haar ekstra plasma en bloed gegee.”
Hierdie week was daar vir die eerste keer ’n antwoord op al die onsekerheid toe dokters die swam in haar longe ontdek het.
“Mariné het nou dringend dialise nodig. Sy is tans baie deurmekaar en op ‘n drip. Sy is nog nie buite gevaar nie,” sê Senobia.
In hierdie moeilike tyd bring die gemeenskap vir Senobia hoop, met vriende, familie en mede-Christene wat vir haar dogter bid.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe ver die nuus van Mariné al versprei het. Mense in ’n klomp dorpe bid vir haar. Ek is baie dankbaar vir almal se ondersteuning.”



