Toyota Innibos 2026: ‘n Fees propvol van alles wat ‘in’ is

Die Laeveld se grootste kuier skop af op 2 Julie. Geniet top kunstenaars, teater, 300 stalletjies en die Bokke teen Engeland op die groot skerm by Innibos.

As jy nog wonder waar jy hierdie winter moet wees, is die antwoord eenvoudig: Toyota Innibos 2026! Van 2 tot 5 Julie verander die Laeveld weer in ’n feesparadys waar musiek, teater, boeke, kuns, rugby, kuier, kos en inkopies saamvloei in een onvergeetlike ervaring, want hier vier ons alles wat in is.

Van groot verhoogproduksies tot die gewilde feesterrein, Woelwaters vir die kinders en die bekende kuierverhoë beloof dit om een vir die boeke te wees.

Die feesterrein – waar alles gebeur

Die hart van Innibos klop by die feesterrein, waar duisende feesgangers elke dag saamtrek vir ’n unieke feeservaring. Hier wag vier kuierverhoë, biertente, heerlike eetgoed, topgehalte uitstallings en natuurlik die beste kunstenaars. Daar is Woelwaters vir die kinders, ’n Pretpark, 300 kos- en ander stalletjies om van te kies en te keur, die ATKV boeke-oase en kunsuitstallings wat jou sommer gekultiveerd gaan laat!

Van vroegoggend af bruis die terrein van energie, en saans verander dit in ’n fees van ligte, musiek en kuiergenot, wanneer feesgangers die indrukwekkende konserte met van ons land se beste kunstenaars op die Innibos-hoofverhoog geniet.

Rugbykoors tref Innibos

Saterdag 4 Julie gaan die gees behoorlik kookpunt bereik wanneer die Springbokke teen Engeland uitdraf. Feesgangers word aangemoedig om reeds van 17:00 af stelling in te neem waar Hammie die gees aan die gang kry voor die  afskop om 17:40. Die fees se groot skerm gaan sorg dat niemand ’n oomblik van die aksie misloop nie.

Kort nadat die eindfluitjie geblaas het, begin die KykNET-musiekvertoning stiptelik om 19:30. Hou vas, want die Saterdagaand beloof hoogtepunt op hoogtepunt!

Waarna kan jy uitsien: Sterbelaaide musiekprogram

  • Donderdag 2 Julie se Huisgenoot afskopkonsert: Die fees skop af met ’n reuse-aabod kunstenaars wat Die Heuwels Fantasties, Die Piesangskille, Elvis Blue, Karlien van Jaarsveld , Ricus Nel, Van Pletzen  en Pieter Koen insluit.
  • Vrydag 3 Julie se Jacaranda FM konsert bring nóg van die land se top kunstenaars verhoog toe soosBobby van Jaarsveld, Fokofpolisiekar, Juanita du Plessis, Riaan Benadé, Spoegwolf en Zaan Sonnekus.
  • Saterdag 4 Julie: Na afloop van die rugby, begin die kykNET konsert met Appel, Barto, BlackByrd, Brendan Peyper, Early B, Elandré, Eloff, Francois van Coke, Irene-Louise van Wyk, Juan Boucher en Riana Nel. En daar wag sonder twyfel ’n verrassing of twee vir jou.
  • Loof Hom Innibos – Sondag 5 Julie: Toyota Innibos sluit die fees op ’n gepaste wyse af met Loof Hom Innibos by Church Unlimited, waar almal hartlik uitgenooi word om saam danksegging en lofprysing te beleef met Riana Nel as hoofkunstenaar.

Kaartjiepryse vir die feesterrein:

  • Laerskoolkinders tot en met 13 jaar: Gratis
  • Senior burgers: R195 (Slegs Donderdag)
  • Donderdag: R250
  • Vrydag: R325
  • Saterdag: R385
  • Weekkaartjie: R775

Benewens die feesterreinprogram is daar ook ’n sterbelaaide teater, leefstyl en klassieke program in venues  buite die feesterrein. Sandra Prinsloo, Frank Opperman, Je-ani Swiegelaar, Coenie de Villiers en Amanda Strydom is onder andere vanjaar by Innibos op die planke.

Vir meer inligting besoek die Innibos webwerf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.
Back to top button