Tragedie in Val: Polisie loods ondersoek ná seun van Pretoria se dood

Polisie sê 'n jong seun wat in Mpumalanga op 'n trein doodgeskok is, wou glo sien wat binne-in 'n vragshouer was.

Die ongeluk op Val in Mpumalanga, waarin ‘n tienerseun van Pretoria Saterdagmiddag bo-op ‘n trein doodgeskok is, het naby die polisiestasie gebeur.

‘n Besoeker aan die Boer en Britdag wat gister by Val gevier is, het aan Ridge Times vertel dat twee seuns van hulle dansgeselskap afgedwaal het tot by ‘n goedere trein sowat 530m verder, naby die polisiestasie.

Die besoeker, wat verkies om anoniem te bly, het die seun se liggaam bo-op ‘n skeepshouer op die trein gesien met ‘n ander seun daar naby.

Die polisie het eers byna 20 ure ná die voorval, inligting verskaf.

Kolonel Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek geopen is na ‘n tienerseun omstreeks 14:00 by die Groenvlie-spoorlyn op Val doodgeskok is.

‘n Bron het gister gesê die seun is 16, maar volgens die polisie is die seun 17 jaar oud.

“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die oorledene saam met ‘n vriend was toe hy op die stilstaande treinhouer geklim het en wou sien wat binne-in die houer was. Hy het na bewering bo-op die houer kontak met die elektriese draad gemaak. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Masondo gesê.

Seun van Pretoria

Die seun was deel was van die Wapadrand Boeredans-groep van Pretoria wat die jaarlikse byeenkoms op Val bygewoon het. Die leier van die dansgeselskap, Danette Smith, wou uit respek vir die kind se ouers nie kommentaar lewer nie.

Rita Britz, die eienaar van die Val Hotel en organiseerder van die Boer en Britdag, het haar medelye uitgespreek.

“Ons deel ons liefde, gedagtes en gebede met die geliefdes wat hierdie tragiese gebeurtenis moes beleef en ons harte gaan uit na hulle in hierdie moeilike tyd,” het Britz gesê.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.
Back to top button