Twee vas vir moord op geliefde kerkman van Parys

Twee mans is vandeesweek in hegtenis geneem in verband met die moord op 'n bejaarde man van Parys.

Twee mans van die Tumahole-woonbuurt by Parys is Woensdag deur plaaslike speurders vasgetrek ná die sinnelose moord op Kenny Browne (72) wat op 3 Maart dood in sy huis gekry is.

Hy het geboet met sy lewe vir net sy selfoon, beursie, gasbottel en ‘n skootrekenaar wat uit sy huis gesteel is.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 40 en 42 jaar oud, sal op 6 Mei in die Parys-landdroshof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.

Polisiewoordvoerder kaptein Loraine Earle het bevestig die polisie sluit nie die moontlikheid uit dat die mans moontlik ook met ander huisrowe, wat die afgelope tyd in die dorp aangemeld is, verbind kan word

Browne se dood het die gemeenskap van Parys platgeslaan. Oor die jare was hy besonders geliefd, veral by die Methodiste-kerk waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n leke-prediker. “Die Here en die kerk was sy lewe.”

Earle het vroeër gesê dat Browne die Sondagoggend in sy huis in Fochstraat op die kombuisvloer gekry is met sy hande en voete vasgebind. Hy was reeds dood toe hy gevind is.

Browne was nooit getroud nie en het alleen gewoon. Hy is in Parys gebore en het sy lewe lank in die dorp gewoon.

Een van die kerk se gemeentelede, Margi Farre, het hom in sy huis gekry nadat sy onraad vermoed het toe hy nie soos gewoonlik die Sondagoggend vroeg by die kerk was om te help met voorbereidings vir die erediens nie. Hy het ook nie sy foon geantwoord nie. Dit was sy gewoonte om altyd te laat weet as hy nie kon kom nie, of laat sou wees.

Margi het aan Parys Gazette gesê sy was onrustig omdat hy die vorige week nie gesond was nie. Die agterdeur was oop toe sy by die huis kom.

Enkele dae voor sy dood het hy nog aan haar gesê dat hy haar daardie Sondag by die kerk sou sien.

Browne is ook die Saterdag voor die moord nog in Checkers gesien toe hy gaan kruideniersware koop het, het inwoners gesê met wie Parys Gazette gesels het.

Plaaslike inwoners het hom geken as ‘n vriendelike en hulpvaardige mens wat vir jare by Mica gewerk het. Vroeër jare was hy ook in die meubelbedryf werksaam.

Browne was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom ná sy aftrede veral toegespits op die kerk se werksaamhede.

Omdat daar baie bejaarde lidmate in die gemeente is, het hy hom oor hulle ontferm, het Cathy du Plessis, hulpleraar by die Methodiste-kerk, gesê. Hy het oral gehelp waar hy kon, en bejaardes van die gemeente wat nie meer kon bestuur nie, dikwels geneem waar hulle moes wees.

Farre het vertel dat hy op ‘n dag toe hul saamgery het, gesê het dat as die Here hom môre sou kom haal, hy gereed is. Sy lewe was ‘n getuienis hiervan.

Iemand wat gelewe het vir sy geloof, ‘n grapjas, ‘n omgeemens. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. As iets gebreek het of gedoen moes word, was hy daar om te help.

Sy ongelooflike kennis van die dorp en sy mense het jou altyd opgeval. Vir sy ‘kerkfamilie’ laat sy dood ‘n oneindige groot leemte en sal sy opregte vriendskap baie gemis word.

“Hy het nie verdien om so te sterf nie. Hy het ‘n hart so groot soos die wêreld gehad, en was ‘n kind van die Here deur en deur. Ons gaan hom verskriklik baie mis by die kerk,” het Du Plessis gesê.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button