Local newsNews

Twee vas vir moord van geliefde kerkman van Parys

"Hy het nie verdien om so te sterf nie"

Twee mans van die Tumahole-woonbuurt by Parys is Woensdag 24 April, deur speurders van Parys, lede van Misdaadvoorkoming en Misdaad Intelligensie  uiteindelik vasgetrek na die sinnelose moord op die 72-jarige Kenny Browne wat Sondagoggend 3 Maart dood in sy huis gekry is. Hy het geboet met sy lewe vir net sy selfoon, beursie, gasbottel en ‘n skootrekenaar wat uit sy huis gesteel is.

Die twee verdagtes, 40 en 42 jaar oud onderskeidelik, sal op Maandag 6 Mei in die Parys-landdroshof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.

Polisiewoordvoerder kapt. Loraine Earle het bevestig die polisie sluit nie die moontlikheid uit dat die mans moontlik ook met ander huisrowe wat die afgelope tyd in die dorp gerapporteer is, verbind kan word

Kenny se dood het die gemeenskap van Parys platgeslaan. Oor die jare was hy besonder geliefd, veral by die Methodiste kerk waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n leke-prediker. “Die Here en die kerk was sy lewe.”

Kapt. Earle het vroeër gesê dat Kenny die Sondagoggend in sy huis in Fochstraat op die kombuisvloer gekry is met sy hande en voete vasgebind. Hy was reeds dood toe hy gekry is.

Kenny was nooit getroud nie en het alleen gewoon.

Hy is in Parys gebore en het sy lewe lank in die dorp gewoon.

Een van die kerk se gemeentelede, Margi Farre, het hom in sy huis gekry nadat sy onraad vermoed het toe hy nie soos gewoonlik die Sondagoggend vroeg by die kerk was om te help met voorbereidings vir die erediens nie. Hy het ook nie sy foon geantwoord nie. Dit was sy gewoonte om altyd te laat weet as hy nie kon kom nie, of laat sou wees.

Margi het aan Gazette gesê sy was  onrustig omdat hy die vorige week nie gesond was nie. Die agterdeur was oop toe sy by die huis kom.

Enkele dae voor sy dood het hy nog aan haar gesê dat hy haar daardie Sondag by die kerk sou sien.

Kenny is ook die Saterdag voor die wrede moord nog in Checkers gesien toe hy gaan kruideniersware koop het, het inwoners gesê met wie Gazette gesels het.

Baie Parysenaars het hom geken as ‘n vriendelike en hulpvaardige mens wat vir jare by Mica gewerk het.

Vroeër jare was hy ook in die meubelbedryf werksaam.

Kenny was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom na sy aftrede veral toegespits op die kerk se werksaamhede.

Omdat daar baie bejaarde lidmate in die gemeente is, het hy hom oor hulle ontferm. het Cathy gesê. Hy het oral gehelp waar hy kon, en bejaardes van die gemeente wat nie meer kon bestuur nie, dikwels geneem waar hulle moes wees.

Margi het vertel dat hy op ‘n dag toe hul saamgery het, gesê het dat as die Here hom môre sou kom haal, hy gereed is. Sy lewe was ‘n getuienis hiervan.
Iemand wat gelewe het vir sy geloof, ‘n grapjas, ‘n omgeemens. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. As iets gebreek het of gedoen moes word, was hy daar om te help.

Sy ongelooflike kennis van die dorp en sy mense het jou altyd opgeval.
Vir sy ‘kerkfamilie’ laat sy dood ‘n oneindige groot leemte en sal sy opregte vriendskap baie gemis word.

“Hy het nie verdien om so te sterf nie. Hy het ‘n hart so groot soos die wêreld gehad, en was ‘n kind van die Here deur en deur. Ons gaan hom verskriklik baie mis  by die kerk.” het Cathy du Plessis hulpleraar by die Methodiste Kerk in Parys gesê kort na die nuus van sy moord bekendgemaak is.

Die arrestasie is ‘n groot deurbraak in die toename in aanvalle op weerlose bejaardes wat geteiken word.

Related Articles

 
Back to top button