Twee verdagtes vas ná jong vrou se moord in Lydenburg
Die 20-jarige Megan Griesel se voertuig is op 21 Oktober 27 keer deur vermeende rowers geskiet – naby haar ouerhuis.

Twee verdagtes wat na bewering met die skietdood op Megan Griesel (20) verbind word, sal more weer in die hof verskyn.
Griesel is op 21 Oktober om ongeveer 00:40 in ‘n koeëlreën dood toe ‘n roofbende op haar motor geskiet het. Haar voertuig is 27 keer deur vermeende rowers geskiet.
Sy was op pad na haar ouerhuis by Sterkspruit Falcon Estatein Lydenburg waar haar pa, Stephan, reeds by die hek vir haar gewag het. Haar foon het doodgegaan terwyl hy met haar gepraat het. Hy het onmiddellik na die verkeersirkel by The Heads-winkelkompleks gery, sowat 200m van hul huis, waar hy die skote gehoor het.
Hy moes self sy dogter uit die voertuig haal. Sy is op die toneel deur die paramedici dood verklaar.
“’n Polisietaakmag het op 1 November die een verdagte naby Masoyi, buite Witrivier, gearresteer. Hy het dieselfde dag in die Lydenburg-landdroshof voorgekom. Nog ‘n verdagte is op 2 November in KaNyamanzane in hegtenis geneem en het in die KaBokweni-landdroshof verskyn,” het Mpumalanga se provinsiale polisiewoordvoerder, Kolonel Donald Mdluli, gesê.
Die verdagtes, beide 27 jaar oud, sal more weer in die Lydenburg-landdrofshof verskyn.
Die polisie is positief dat nog arrestasies sal volg.
Read original story on www.citizen.co.za