Vaalrivier bootongeluk: Man vertel hoe mense onder boot vassit

Hy het op ‘n stadium ‘n reddingsbaadjie in die water raakgevat en ‘n kind onder die boot uitgetrek.

’n Inwoner wat langs die Vaalrivier bly was gister eerste op die toneel om hulp te verleen waar ‘n motorboot met ‘n geskatte 10 mense in omgeslaan het.

“Met my aankoms het ek drie mense en ‘n kind bo-op die omgekeerde boot gevind. Daar het twee ander mense in die water gedryf. Hulle het reddingsbaadjies aan gehad, maar hulle koppe was onder die water,” vertel die inwoner. Hy het versoek om anoniem te bly.

Hy het in ‘n onderhoud met Vaalweekblad vertel dat hy gister omstreeks 16:30 ‘n oproep ontvang het dat daar ‘n noodsituasie op die rivier was.

Hy het dadelik sy eie reddingsbaadjie aangetrek, twee ekstra gevat en met sy waterponie na die toneel gehaas.

Hy was binne vyf minute by die toneel. Die ongeluk het sowat 600m van die Sam Gross Jetty in Drie Riviere gebeur.

Met sy aankoms het hy gemerk dat die mense wat kop onder water op die rivier gedryf het, wel reddingsbaadjies aan gehad het, maar dat dit nie behoorlik vasgemaak was nie.

“Die baadjies het soos Batman se cape agter hulle gedryf”.

Die mense wat bo-op die boot vasgekeer was (drie volwassenes en ‘n peuter) het nie reddingsbaadjies aan gehad nie. Die boot was sowat vyf tot ses meter van die oewer, maar die rivier is daar reeds diep.

Hy het ‘n vrou wat in die water gedryf het na die kant geneem, en daarna nog ’n persoon.

Daarna het hy die peuter wat op die boot gesit het na die wal geneem, en toe die boot met die ander nog daarop, na die wal gesleep.

Tussen al die histerie het dit aan die lig gekom dat daar nog mense vermis is. Hy het besef dat daar moontlik mense onder die boot vasgekeer was.

Nog helpers het intussen opgedaag, maar die boot was te swaar om in die water om te keer.

“Dit is nie ‘n baie groot boot nie, ‘n ‘16 voet boot’, wat geskik is vir so ses mense op ‘n slag,” vertel die man.

Die weldoener het toe onder water, onder die boot rondgevoel. Hy het uiteindelik na nog drie minute se soek ‘n reddingsbaadjie gevoel. Dit was ‘n peuter van sowat twee-jaar.

Die man het vir bykans vyf minute kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op die peuter toegepas, maar sonder sukses.

Intussen is nog mense onder die boot uitgehaal, maar hulle kon ook nie gered word nie. Net die vrou wat eerste deur die weldoener uit die water gered was, kon deur middel van KPR gered word.

CERT SA se noodreddingreaksiespan se verslag lui: “Vier mense is op die toneel dood verklaar. Ses ander pasiënte is op die toneel behandel, maar het geweier om na die hospitaal geneem te word.”

Vaalweekblad se susterskoerant, Sedibeng Ster, skryf dat Mbonisi Mangena (41) en van sy familielede op ‘n XTA ski-boot gery het wat deur hom bestuur is tydens sy verjaardagvieringe.

‘n Groter boot het glo in die verbygang golwe veroorsaak wat Mangena se boot laat omdop en al 10 insittendes in die water laat beland het.

‘n Swanger vrou en drie-jarige kind tel onder die vier mense wat oorlede is.

Sedibeng polisiewoordvoerder, Kaptein Fikile Funda, sê dat hulle sake van strafbare manslag ondersoek.

 

 

Read original story on vaalweekblad.com

 
Back to top button