Vaalrivier-tragedie: EFF eis skorsing van skipper, plasings oor minderjariges in spervuur

Die regspan van minderjariges wat wederregtelik geïdentifiseer is in die dood van Thomas Sithole eis die verwydering van plasings te midde van eise van die EFF se jeugvleuel.

Die Hoërskool Driehoek het sekuriteit by die skool opgeskerp nadat die EFF se jeugvleuel in Emfuleni gedreig het om die skool tot ‘n stilstand te dwing. Hulle dreigement volg nadat Thomas Sithole (17) se lyk Maandagoggend in die Vaalrivier gevind is nadat hy verlede Vrydagaand vermis geraak het.

Vaalweekblad noem die kwessie is volgens die skool reeds by die onderwysdepartement aangemeld.

Thomas was saam met vriende op ‘n boot en het na bewering onder raaiselagtige omstandighede vermis geraak.

Voorsitter van beheerliggaam geïdentifiseer as skipper

Die skipper van die boot is intussen as Francois Struwig geïdentifiseer. Hy is die voorsitter van die skool se beheerliggaam.

Die EFF dring daarop aan dat Struwig en enigeen wat in ‘n magsposisie is wat by die saak geïmpliseer word, geskors moet word. Dit sluit prefekte en klasleiers in. Luidens die verklaring word daar ‘n veldtog beplan om die skool tot ‘n stilstand te dwing indien daar nie aan hulle eise voldoen word nie.

Hulle het ook verder hulle misnoeë uitgespreek dat die skool gister na bewering ‘n diens gehou het sonder om die publiek in kennis te stel.

Plasings oor minderjariges moet verwyder word

Die regspan van die minderjariges wat wederregtelik op sosiale media geïdentifiseer en geïmpliseer word by die dood van Thomas het aanmanings aan verskeie nuusblaaie, nuusagentskappe en individue gestuur.

Die saak het landwyd opslae gemaak. Sosiale media is ook sedertdien aan die gons oor die presiese omstandighede wat tot die dood van die jong Vaaldriehoeker gelei het. Hoewel die skipper van die boot se regsverteenwoordiger vroeër vandeesweek ‘n persverklaring uitgereik het, het dit petrol op die vuur gegooi vir die wyer publiek wat hulle tot sosiale media gewend het om te spekuleer oor die gebeure.

Thomas se familie het dit duidelik laat blyk dat hulle gemene spel vermoed. Intussen het dié plasings op sosiale media handuit geruk. Foto’s en name van die agt minderjariges is wederregtelik op Facebook geplaas.

Die regspan van die betrokke kinders het gister omstreek 17:30 ‘n persverklaring uitgereik waarin die wyer publiek, individue en sosiale media joernaliste gemaan word om plasings van die betrokke minderjariges binne 24 uur te verwyder.

‘n Kort uiteensetting van die sleutelpunte van die verklaring:

Die verklaring herinner die publiek dat:

  • Minderjariges se reg op privaatheid deur die Grondwet beskerm word.
  • Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting verbied die verwerking of publisering van ’n kind se persoonlike inligting sonder toestemming van die ouer/voog.
  • Die Kinderwet (Wet 38 van 2005) gee verdere beskerming.
  • Die deel van vals, misleidende of lasterlike inligting kan lei tot laster, skadevergoeding of selfs crimen injuria.

Die ouers verklaar uitdruklik dat geen toestemming gegee is vir:

  • Deel, herdeel, publisering of verspreiding van enige beeldmateriaal of persoonlike data van hulle kinders nie. Sommige inhoud wat gedeel is bevat beskuldigings en misleidende stellings wat die kinders en hulle families benadeel.

Alle persone betrokke by die deel van die materiaal word versoek om binne 24 uur:

  • Te stop met enige verdere deel of kommentaar oor die kinders se inligting, alle bestaande inhoud vanaf alle platforms (Facebook, WhatsApp-groepe, forums, ens.) te verwyder.
  • Op te hou om onwaarhede of lasterlike stellings te versprei.

Indien persone nie voldoen nie, behou die ouers hulle reg voor om:

  • Klagte by die Inligtingsreguleerder in te dien (boetes tot R10m kan volg).
  • ’n Hofinterdik te vra om die verwydering af te dwing.
  • Siviele eise in te dien vir skade, wie se regte geskend is.
  • Kriminele klagte te lê waar toepaslik.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button