Sithole-dood: Plasings oor minderjariges moet verwyder word
Regsspan gee oortreders 24 uur om alle foto's en plasings oor minderjariges te verwyder. Boetes van R10 miljoen kan volg. Daar is ook sprake van siviele eise en kriminele vervolging.
VANDERBIJLPARK – Die regsspan van die minderjariges wat wederegtelik op sosiale media geïndentifseer en geïmpliseer word by die dood van Thomas Sithole het aanmanings aan verskeie nuusblaaie, nuusagentskappe en individue gestuur.
Sithole het Vrydag, 9 Januarie op die Vaalrivier vermis geraak en sy lyk is die daaropvolgende Maandag naby Abrahamsrus deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se watervleuel gevind.
Die saak het landwyd opslae gemaak. Sosiale media is ook sedertdien aan die gons oor die presiese omstandighede wat tot die dood van die jong Vaaldriehoeker gelei het. Hoewel die Skipper van die boot, Francois Struwig, se regsverteenwoordiger vroeër vandeesweek ‘n persverklaring uitgereik het, het dit petrol op die vuur gegooi vir die wyer publiek wat hulle tot sosiale media gewend het om te spekuleer oor die gebeure.
Sithole se familie het dit duidelik laat blyk dat hulle gemene spel vermoed. Intussen het die plasings op sosiale media handuit geruk. Foto’s en name van die agt minderjariges is wederregtelik op Facebook geplaas.
Die regsspan van die betrokke kinders het omstreek 17:30 op 15 Januarie ‘n persverklaring uitgreik waarin die wyer publiek, individue, en sosiale media joernaliste gemaan word om plasings van die betrokke minderjariges binne 24 uur te verwyder.
Hiernaas is ‘n kort uiteensetting van die sleutelpunte van die verklaring:
Die verklaring herinner die publiek dat: Minderjariges se reg op privaatheid deur die Grondwet beskerm word.
Die POPIA-wet verbied die verwerking of publisering van ’n kind se persoonlike inligting sonder toestemming van die ouer/voog.
Die Children’s Act gee verdere beskerming.
Die deel van vals, misleidende of lasterlike inligting kan lei tot laster, skadevergoeding of selfs crimen injuria.
Die ouers verklaar uitdruklik dat geen toestemming gegee is vir:
Deel, herdeel, publisering of verspreiding van enige beeldmateriaal of persoonlike data van hul kinders nie. Sommige inhoud wat gedeel is, bevat beskuldigings en misleidende stellings wat die kinders en hulle families benadeel.
Alle persone betrokke by die deel van die materiaal word versoek om binne 24 uur: Te stop met enige verdere deel of kommentaar oor die kinders se inligting, alle bestaande inhoud vanaf alle platforms (Facebook, WhatsApp-groepe, forums, ens.) te verwyder.
Op te hou om onwaarhede of lasterlike stellings te versprei: Indien persone nie voldoen nie, behou die ouers hul reg voor om: Klagte by die Inligtingsreguleerder in te dien (boetes tot R10 miljoen kan volg). ’n Hofinterdik te vra om die verwydering af te dwing.
Siviele eise in te dien vir skade, wie se regte geskend is. Kriminele klagte te lê waar toepaslik.
Aangeheg is die volledige verklaring in engels:

