Vereeniging-vrou sterf ná sy met petrol gegooi, aan die brand gesteek is
Waarskuwing: Hierdie storie kan sensitiewe lesers ontstel. 'n Vrou is oorlede net meer as 'n week nadat sy aan die brand gesteek is, glo deur haar saamleefmaat.
‘n Vrou (42) van Vereeniging is gister oorlede nadat ‘n man, na bewering haar saamleefmaat, ‘n week gelede glo petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het.
Linell du Toit het sedert 26 Oktober vir haar lewe in die Sebokeng-hospitaal geveg, maar het uiteindelik gister aan beserings beswyk.
Du Toit het derde- tot vierdegraadse brandwonde oor 80% van haar liggaam opgedoen.

Die voorval
Die voorval het 26 Oktober omstreeks 17:30 by ‘n woonstel in Uniestraat in die middestad afgespeel, waar Du Toit en haar saamleefmaat ‘n woonstel gedeel het.
In ‘n kringtelevisie-beeldmateriaal van die voorval kan mens sien hoe ‘n vuur by die woonstel uitbreek en hoe ‘n ander inwoner van die woonstelgebou dan die vlamme blus.
Du Toit het in ‘n video wat die afgelope week op sosiale media gesirkuleer het, vertel wat glo daardie dag gebeur het.
“Hy het die middag petrol oor my uitgegooi en toe aan die brand gesteek. Daar was soveel vlamme gewees. Alles was aan die brand. Hy het gesukkel om daar uit te kruip,” vertel sy.
Du Toit beweer op die video dat haar saamleefmaat vir haar gesê het om te sê dit was ’n ongeluk.
“Dit was nie ‘n ongeluk nie,” sê sy terwyl sy lê en ruk van die pyn en skok.
Die saamleefmaat word in dieselfde hospitaal behandel vir brandwonde wat hy opgedoen het tydens die voorval.

Vaalweekblad het op advies besluit om vir eers nie die man se naam te noem tot hy formeel aangekla is en in die hof gepleit het nie.
Luitenant-kolonel Mavela Masondo, ‘n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig dat die man nou van moord aangekla gaan word.
Ander bewerings
In die video vertel Du Toit ook dat haar kêrel haar twee dae voor die voorval gewurg het en in die woonstel toegesluit het.
“Hy sluit my kort-kort toe in die kamer dat ek nêrens heen kan gaan nie.”
Die publikasie verneem die Vereeniging-polisie ondersoek die voorval en dat verklarings reeds by albei die partye in die hospitaal geneem is.
Volgens ‘n familielid het Du Toit in die verklaring wat sy aan die polisie afgelê het die bewerings wat in die video gemaak word, beaam.
Read original story on www.citizen.co.za