Vrou glo met petrol gegooi en aan die brand gesteek
Haar saamleefmaat gaan nou van moord aangekla word.
*WAARSKUWING: Die storie kan sensitiewe lesers ontstel.
VEREENIGING – ‘n Vrou (42) is dood nadat haar saamleefmaat ‘n week gelede glo petrol oor haar uitgegooi en aan die brand gesteek het.
Linell du Toit het sedert Saterdag 26 Oktober vir haar lewe in die Sebokeng-hospitaal geveg, maar het uiteindelik Sondagaand 3 November aan beserings beswyk.
Linell het derde- tot vierdegraadse brandwonde oor 80% van haar liggaam opgedoen.


Die voorval het Saterdag 26 Oktober omstreeks 17:30 by ‘n woonstel in Uniestraat in die middestad afgespeel, waar Linell en haar saamleefmaat ‘n woonstel gedeel het.
In ‘n geslotekringvideo van die voorval kan mens sien hoe ‘n vuur by die woonstel uitbreek en hoe ‘n inwoner van die woonstelgebou dan die vlamme blus.
Linell het in ‘n video wat die afgelope week op sosiale media gesirkuleer het vertel wat daardie dag gebeur het.

“Hy het die middag petrol oor my uitgegooi en toe aan die brand gesteek. Daar was soveel vlamme gewees. Alles was aan die brand. Hy het gesukkel om daar uit te kruip,” vertel sy.
Linell sê op die video dat haar saamleefmaat vir haar gesê het om te sê dit was ’n ongeluk.
“Dit was nie ‘n ongeluk nie,” sê sy terwyl sy lê en ruk van die pyn en skok.
Die saamleefmaat word in dieselfde hospitaal behandel vir brandwonde wat hy opgedoen het tydens die voorval.
Vaalweekblad het op advies besluit om vir eers nie die man se naam te noem tot hy formeel aangekla is en in die hof gepleit het nie.
Luitenant-kolonel Mavela Masondo, ‘n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die man nou van moord aangekla gaan word.

In die video vertel Linell ook dat haar kêrel haar twee dae voor die voorval gewurg het en in die woonstel toegesluit het.
“Hy sluit my kort-kort toe in die kamer dat ek nêrens heen kan gaan nie.”
Vaalweekblad verneem die Vereeniging Polisie ondersoek die voorval en dat verklarings reeds by albei die partye in die hospitaal geneem is.
Volgens ‘n familielid het Linell in die verklaring wat sy aan die polisie afgelê het die bewerings wat in die video gemaak word, beaam.
