Vermeende diefstalsindikaatlid dood in skietery, 6 vas in Vaaldriehoek
’n Gesamentlike misdaadoperasie in Drie Riviere het op ’n jaagtog en ’n skietery uitgeloop nadat ’n kamera ’n verdagte voertuig opgemerk het.
’n Vermeende lid van ’n diefstalsindikaat is gister (11 November) tydens ’n skietery dood en ses verdagtes is in hegtenis geneem ná ’n gesamentlike operasie in die Vaaldriehoek.
Vaalweekblad berig dat volgens Sekuriteit Sonder Grense (SSG) word die groep met die diefstal van motorfietse en hekmotors in die streek verbind.
Die operasie het begin nadat ’n nommerplaatherkenningskamera (SNIPR) ’n verdagte voertuig opgemerk het wat in verband met motorfietsdiefstal in Drie Riviere gesoek is. SSG se eenhede, Midvaal se wetstoepassers en die polisie het daarop gereageer en die voertuig begin soek.
Volgens die veiligheidsmaatskappy het verdere ondersoek aan die lig gebring dat ’n tweede voertuig, wat vermoedelik saam met die eerste opgetree het, ook in die omgewing was.
Die insittendes van die eerste voertuig het glo die nommerplate met hulle aankoms in die gebied omgeruil om opsporing te probeer ontduik. Die oorspronklike nommerplate is volgens SSG reeds voorheen met hekmotordiefstal verbind.

Jaagtog en skietery
Spanne het die gebied deursoek en albei voertuie opgespoor, waarna ’n hoëspoedjaagtog gevolg het.
SSG sê nadat die voertuie tot stilstand gedwing is, het ’n gewapende verdagte uitgeklim en op die reagerende lede losgebrand. Die lede het volgens die maatskappy teruggeskiet en die man is noodlottig gewond.
Daar is ook op ’n vuurwapen, wat volgens SSG onwettig was, en twee voertuie beslag gelê.
Die maatskappy sê al die lede wat aan die operasie deelgeneem het, is veilig terug.
SSG het Midvaal se wetstoepassers en kringtelevisiebeheerkamer, die Vanderbijlpark-polisie se misdaadvoorkomingseenheid, SNIPR, die veiligheidsmaatskappy Belrex en Vereeniging se voertuigmisdaadondersoekeenheid vir hul bystand bedank.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za