News

Een dood, ses vas ná jaagtog in Vaaldriehoek

Ses vermeende lede van ’n motorfiets- en hekmotordiefstalsindikaat is in hegtenis geneem en ’n sewende is doodgeskiet.

VEREENIGING – ’n Vermeende lid van ’n diefstalsindikaat is Woensdag 11 November tydens ’n skietery dood en ses verdagtes is in hegtenis geneem ná ’n gesamentlike operasie in die Vaaldriehoek.

Volgens Sekuriteit Sonder Grense (SSG) word die groep met die diefstal van motorfietse en hekmotors in die streek verbind.

Een van die voertuie wat deur lede van ‘n vermeende motorfietsdiefstalsindikaat gebruik is. Foto: Sekuriteit Sonder Grense

Die operasie het begin nadat ’n SNIPR-kamera ’n verdagte voertuig opgemerk het wat in verband met motorfietsdiefstal in Drie Riviere gesoek is. SSG se eenhede, Midvaal se wetstoepassers en die polisie het daarop gereageer en die voertuig begin soek.

Volgens die veiligheidsmaatskappy het verdere ondersoek aan die lig gebring dat ’n tweede voertuig, wat vermoedelik saam met die eerste opgetree het, ook in die omgewing was.

Die insittendes van die eerste voertuig het glo die nommerplate met hul aankoms in die gebied omgeruil om opsporing te probeer ontduik. Die oorspronklike nommerplate is volgens SSG reeds voorheen met hekmotordiefstal verbind.

‘n Gewapende verdagte is doodgeskiet nadat hy op reaksiespan losgebrand het. Foto: Sekuriteit Sonder Grense

Spanne het die gebied deursoek en albei voertuie opgespoor, waarna ’n jaagtog teen hoë spoed gevolg het.

SSG sê nadat die voertuie tot stilstand gedwing is, het ’n gewapende verdagte uitgeklim en op die reagerende lede losgebrand. Die lede het volgens die maatskappy teruggeskiet en die man is noodlottig gewond.

Ses verdagtes is in hegtenis geneem. Daar is ook op ’n vuurwapen, wat volgens SSG onwettig was, en twee voertuie beslag gelê.

Die maatskappy sê al die lede wat aan die operasie deelgeneem het, is veilig terug.

SSG het Midvaal se wetstoepassers en kringtelevisiebeheerkamer, die Vanderbijlpark-polisie se misdaadvoorkomingseenheid, SNIPR, Belrex en Vereeniging se voertuigmisdaadondersoekeenheid vir hul bystand bedank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button