Vermiste Wes-Kaapse sakeman se liggaam gevind
’n Verdagte verskyn vandag in die Mosselbaai Landdroshof in verband met die sakeman se moord terwyl polisie na nog drie mans soek.
Die polisie het vanoggend bevestig dat die vermiste man van Hartenbos, Desmond Share (52) vermoor is.
Share het ‘n week gelede vermis geraak nadat hy werk in Herbertsdale moes gaan doen het. Sy bril is glo later deur polisie op ‘n toneel in die area gevind.
Polisiewoordvoerder, sersant Chris Spies sê Share se liggaam is Saterdag tussen bosse naby Albertinia gevind.
Share het verskeie beserings opgedoen en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend gemaak nie.
Intussen verskyn ‘n 30-jarige man vandag in die Mosselbaai Lannddroshof in verband met sy moord.
Die verdagte word aangekla van moord, motorkaping en ontvoering.
Volgens Spies is hy by Da Noon in Kaapstad in hegtenis geneem.
Die polisie is steeds op soek na drie verdagtes wat ook met Share se moord verbind kan word.
Share se bakkie, ’n wit Ford Ranger, is verlede Dinsdag om ongeveer 18:06 deur kringtelevisiekameras by die BP-vulstasie by Buffeljagrivier opgetel. Daar was twee insittendes in die voertuig.
Spies sê die voertuig is nog nie opgespoor nie.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com