Video: Middelburgse paartjie vertel van Mabalingwe-vlammehel

Quintin Coetzee en sy verloofde, Nicky Herridge Britz, moes soos talle ander vakansiegangers vlug toe brande amok maak in dié reservaat.

Terwyl Mabalingwe Natuurreservaat in ’n vlammehel verwoes is, het ’n huis waarin ’n Middelburgse egpaar hulle Bybel vergeet het, ongeskonde gebly.

“Ons het gehoor hoe een van die brandende huise se gasbottels ontplof,” vertel Quintin Coetzee.

Quintin deel die traumatiese gebeure wat die naweek uitgespeel het toe hy en sy verloofde, Nicky Herridge Britz, saam met talle ander vakansiegangers weens die vlamme moes vlug.

“Op ’n stadium het ons twee bejaarde vroue en ‘n man langs die pad gekry wat bitterlik gehuil het omdat hul kinders in ’n huis was wat gebrand het. Ons kon nie teruggaan om te help nie, want die vuur was te erg. ’n Mens voel so magteloos…”

Gelukkig, het die hele gesin darem veilig uit die huis ontsnap.

Wegbreek word tragedie

Quintin en Nicky het Saterdagoggend vertrek na Mabalingwe vir ’n naweek weg by dié natuurreservaat in Limpopo. Hulle het omstreeks 14:00 daar aangekom, afgepak en gaan swem.

Terwyl hulle geswem het, het hulle in die verte rook, aan die agterkant van reservaat, opgemerk. “Die volgende oomblik het ons gesien die brandweerwaens kom ingery.”

Quintin het vir Nicky gesê hulle moet gaan kyk of hulle iets sien, maar hulle het besluit om na hul blyplek te gaan om gereed te maak om te gaan eet by die restaurant bo in die berg.

Hulle kon laat Saterdagmiddag vanaf die Vultures Restaurant die rook aan die agterkant van die berge sien.

Die paartjie het die rugby by die restaurant gekyk, en kon die heeltyd die rook van daar af sien. Met hulle terugkeer na hul blyplek by Elephant Lodge, het hulle die rooi van die vlamme gesien.

Hulle het omstreeks 02:30 Sondagoggend wakker geword toe die eienaars van dié lodge brandblussers kom haal het. “Nicky kon nie weer slaap nie en het die hele tyd die rooi van die vure in die donker gesien.”

Saterdagaand vanaf die restaurant was die donker hemel verlig met die vlamme van die vuur op die berge.

Teen 07:00 het die twee gery na Kalahari Oasis Bar. “Alles om Oasis het afgebrand en ek en Nicky was alleen daar. Dit was so hartseer om die bosbokkies wat in Oasis in gevlug het, te sien.”

Die paartjie het gemerk dat die brand verder in die reservaat versprei het, en hulle het besluit om met ’n ompad terug te ry na hulle blyplek toe. “Soos ons ry, het ons gesien hoe die huise brand!”

Dit is op dié ompad wat hulle op die bejaardes afgekom het, wat huilend vir hulp gevra het vir hul kinders. Die paartjies moes egter die pad vat, want die vlamme het ook daardie omgewing bereik.

Die eienaar van die huis waar hulle gebly het, het hulle gebel en gesê hulle moet dadelik ontruim, want daar is huise wat in die omgewing brand.

Hulle het spoedig die pad na die huis aangedurf en op pad na hulle blyplek toe, het voertuie – wat op pad was na die noodarea – vir hulle ligte geflikker om te wys dat hulle moet omdraai.

Van die skade wat die vuur aangerig het.

Met hulle aankoms by hul blyplek, het hulle gesien die huis ongeveer 100m van hulle af, is reeds aan die brand. “Ons het gehoor hoe ontplof die gasbottels!”

Die paartjie het vinnig gepak, in die kar gespring en vir die vlamme weggejaag. Nadat hulle ’n ent gery het, het Nicky gesê dat sy haar Bybel in die huis vergeet het.

“Ek het vir haar gesê omdat sy die Bybel daar gelos het, sal die huis nie brand nie. Ons het later gehoor dat dit een van die huise was wat nie gebrand het nie.”

By die nood-bymekaarkompunt het almal gesien hoe die diere uit die bosse uitkom en baie naby aan hulle aan die kant van die bos gaan staan om veilig, weg van die vlamme af, te wees.

Quintin sê hulle het teen ongeveer 80km/h van die punt tot in Bela-Bela gery. “Van Mabalingwe af tot in Bela-Bela was die vuur langs die pad.”

Hy noem dit was gister vir hom moeilik om saam met almal om die braaivleisvure te kuier. “As ek die reuk van hout wat brand ruik, word ek naar. Ek kan dit nie hanteer nie. Ek droom tot van die vure.”

  • Quintin en Nicky het ’n finansiële bydrae gelewer vir mense wat alles in die brand verloor het.
  • ‘n Persvrystelling het gemeld dat daar geen lewensverlies is nie, maar dat een van natuurreservaat se personeellede ernstige brandwonde opgedoen het in die brand.
  • Daar is gesê dat die brand Saterdag omstreeks 14:00 op ’n buurplaas begin het en deur erge wind versprei is.
  • 200 mense, waaronder 100 brandweermanne van die omgewing, het teen die vure gestry.
  • 56 huise het afgebrand, agt is beskadig, en die boskamp en ’n deeltitel chalet het ook afgebrand.
  • Sowat 6 000ha weiding het afgebrand en ’n veearts het reeds begin kyk na die welstand van die diere.
  • Buiten dat daar ’n noodrekening begin is vir gesinne wat alles verloor het, word daar ook gevra vir voer vir die diere in die vorm van lusern en tef.
  • Die Ludum Wildkonsortium het ook ’n veldtog, Back-Our-Bokkies, begin en bankbesonderhede kan verkry word op hulle webtuiste.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button