Mabalingwe: Brand duur voort, minstens 50 huise verwoes

Brandbestryders poog steeds om die brand wat die reservaat naby Bela-Bela in 'n vlammehel gedompel het, te blus.

Die brand in die Mabalingwe wildreservaat saai steeds verwoesting aan die noordelike gedeelte.

Volgens die nuutste inligting wat beskikbaar is, is die brand in die suidelike gedeelte omstreeks 03:00 onder beheer gekry. Brandbestryders sal vanoggend op die noordelike gedeelte fokus.

“‘n Strategiese vergadering is 07:00 gehou. Brandbestryding sal deur die loop van die dag voortduur en skadebepaling sal gedoen word. Ons skat dat meer as 50 huise beskadig is,” lees ‘n boodskap wat 06:40 deur VF+-raadslid Jeedee Cloete, van Bela-Bela, gestuur is.

Cloete voeg by dat die Thabazimbi-pad (R516) weer oop is vir motoriste. “Verlies aan wild sal vandag ondersoek en geassesseer word, asook weidingsverlies.”

Die oranje kleur dui die brand en gebrande areas aan, hoewel die brand steeds aanhou versprei. Bron: Die Pos.

Reservaat versoek

‘n Verklaring wat vanoggend deur die reservaat op hulle Facebook-blad geplaas is, noem: “Alle personeel op Mabalingwe leef en hulle help steeds met brande in die gebied. Ons veldwagters is vanoggend in die veld om die wild en hul gesondheid te monitor. Alle diere by die Boschpoort Predator-reservaat leef en is in goeie gesondheid.”

Die reservaat sê hulle waardeer al die hulp wat aangebied word, maar vra dat daar nie gespekuleer word nie. “Spekulasie en ongeverifieerde inligting kan ons pogings belemmer en moontlik onnodige paniek veroorsaak. Ons verbintenis tot deursigtigheid bly onwrikbaar, en ons sal amptelike opdaterings deel so gou as wat ons kan.”

Bron: Mabalingwe.

Vlammehel

Die Pos het gister berig dat na verwagting minstens 13 000ha deur vlamme verswelg is.

“Dit is chaos. Die wind is net teen ons, maar hier is soveel ouens [om te help],” het Cloete gister genoem.

Die Pos het vroeër berig dat meer as 200 brandbestryders hand bysit. Twee helikopters is ingespan, terwyl Hoërskool Warmbad hulle hekke oopgemaak het vir waterkarre.

’n Veldbrand wat Saterdag ontstaan het, steek klaarblyklik agter hierdie wydverspreide vlammehel.

Miljoene rande se skade is aangerig en vakansiegangers moes inderhaas gisteroggend die pad vat.

Dit blyk of die leeus se kampe nie beskadig is nie, aldus Cloete. Hulp sal ook ingeroep word vir diere wat in die brand beseer is.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button