Huis waarin Bybel is brand nie tydens Mabalingwe-vlammehel
Middelburger vertel van hul trauma midde-in die brand by Mabalingwe.
Terwyl Mabalingwe Natuurreservaat in ’n vlammehel verwoes is, het ’n huis waarin ’n Middelburgse egpaar hulle Bybel vergeet het, ongeskonde gebly.
“Ons het gehoor hoe een van die brandende huise se gasbottels ontplof,” vertel Quintin Coetzee.
Quintin het vertel van die traumatiese gebeure oor die naweek toe hy en sy verloofde, Nicky Herridge Britz, saam met talle ander vakansiegangers voor die vlamme moes vlug.
“Op ’n stadium het ons twee bejaarde vroue en man langs die pad gekry wat bitterlik gehuil het, omdat hul kinders in ’n huis was wat gebrand het. Ons kon nie teruggaan om te help nie, want die vuur was te erg. ’n Mens voel so magteloos…”
Gelukkig het die hele gesin darem veilig uit die vuur gekom.
Quintin en Nicky het Saterdagoggend vertrek na Mabalingwe vir ’n naweek weg by dié besondere natuurreservaat in Limpopo.
Hulle het omstreeks 14:00 daar aangekom, afgepak en gaan swem.
Terwyl hulle geswem het, het hulle in die verte die rook, aan die agterkant van die natuurreservaat opgemerk.
“Die volgende oomblik het ons gesien die brandweerwaens kom ingery.”
Quintin het vir Nicky gesê hulle moet gaan kyk of hulle iets sien, maar hulle het besluit om na hul blyplek te gaan om gereed te maak om te gaan eet by die Vultures Restaurant bo in die berg.

Hulle het die rugby ook daar gekyk en die hele tyd die rook van daar af gesien.
Met hul terugkeer na hul blyplek by die lodge, het hulle die rooi van die vlamme gesien.
Omstreeks 02:30 Sondagoggend is hulle gewek toe die eienaars van die lodge brandblussers kom haal het.
“Nicky kon nie weer slaap nie en het die hele tyd die rooi van die vure in die donker gesien.”

Omstreeks 07:00 het die twee gery na Kalahari Oasis Pub
“Alles om Oasis het afgebrand en ek en Nicky was alleen daar. Dit was so hartseer om die bosbokkies wat daar in gevlug het, te sien.”
Teen hierdie tyd het hulle gesien die vure het versprei in die reservaat en hulle het met ’n ompad terug gery na hul blyplek.
“Soos ons ry, het ons gesien hoe die huise brand!”
Terwyl hulle die ompad gery het, het hulle die bejaardes gekry wat huilend vir hulp gevra het vir hul kinders.
Hulle moes egter geepad, want die vlamme het ook daardie omgewing bereik.
Die eienaar van die huis waar hulle gebly het, het hulle gebel en gesê hulle moet dadelik ontruim, want daar is huise wat in die omgewing brand.
Hulle het terug gejaag na die huis en langs die pad het al die voertuie wat op pad was na die noodarea, vir hulle ligte geflikker om te wys hulle moet omdraai.

Met hul aankoms by hul blyplek, het hulle gesien die huis honderd meter van hulle af is reeds aan die brand.
“Ons het gehoor hoe ontplof die gasbottels!”
Die paartjie het alles vinnig gepak, in die kar gespring en vir die vlamme weg gejaag.
Nadat hulle ’n ent gery het, het Nicky gesê dat sy haar Bybel in die huis vergeet het.
“Ek het vir haar gesê, omdat sy die Bybel daar gelos het, sal die huis nie brand nie. Ons het later gehoor dat dit een van die huise was wat nie gebrand het nie.”
By die nood-bymekaarkomplek het almal gesien hoe die diere uit die bosse uit kom en baie naby aan hulle aan die kant van die bos gaan staan om veilig weg van die vlamme af te wees.
Quintin sê hulle het moes baie stadig ry tot by Bela-Bela, omtrent die hele tyd 80 km/p/h.
“Van Mabalingwe af tot in Bela-Bela was die vuur langs die pad.”
Hy het ’n video beskikbaar gestel waar ’n mens dit kan sien.
Maandag was dit vir hom moeilik om saam met almal om die braaivleisvure te kuier.
“As ek die reuk van hout wat brand ruik, word ek naar. Ek kan dit nie hanteer nie. Ek droom tot van die vure,”
• Na ’n persvrystelling wat vir hulle ook gestuur is vanaf die Mabalingwe Algemene Eiendom Assosiasie, het Quintin en Nicky ook ’n finansiële bydrae gelewer vir mense wat alles in die brand verloor het.
• Die persvrystelling het gemeld dat daar geen lewensverlies was nie, maar dat een van Mabalingwe Natuurreservaat se personeellede ernstige brandwonde opgedoen het in die brand, terwyl hy die brandweer en ander spanne gehelp het om teen die vlamme te veg.

Daar is gesê dat die brand Saterdag omstreeks 14:00 op ’n buurplaas begin het en deur Mabalingwe en die Waterberge aangejaag is deur die erge wind.
’n Totaal van 200 mense, waaronder 100 brandweermanne van die omgewing, het teen die vure gestry.
Daar het 56 huise afgebrand, agt beskadig, en die boskamp en ’n deeltitel chalet het ook afgebrand.
Sowat 6 000 hektaar weiding het afgebrand en ’n veearts spesialis het vanuit die lug in ’n helikopter vroeg hierdie week reeds begin kyk na die welstand van die diere,
Buiten dat daar ’n noodrekening begin is vir gesinne wat alles verloor het, word daar ook gevra vir voer vir die diere in die vorm van lusern en tef.
Die Ludum Wildkonsortium het ook ’n veldtog, “Back-Our-Bokkies” begin en bankbesonderhede kan verkry word by die volgende skakel: https://www.ludum.co.za/back-our-bokkies.
