Video: Rondloper bobbejaan in Middelburg gevang met ‘gedokterde vrugte’
Die bobbejaan sal, na ‘n veearts hom deeglik ondersoek het, na ‘n rehabilitasiesentrum in Limpopo geskuif word.
‘n Bobbejaan wat oor die afgelope paar dae in Aerorand, Middelburg opgemerk is, is gisteraand veilig gevang nadat hy aan vrugte wat met ‘n slaapmiddel gemeng is, gesmul het.
Die Middelburg Observer berig dat Adj. Stoney Steenkamp (Veediefstal en Bedreigde Spesie-eenheid) en Deon Cornelius (uBhetyan O’Africa Wildlife Rescue Services) die bobbejaan veilig in ‘n hok gekry het met die hulp van die Aerorand gemeenskapspolisiëring.
Veearts sal seker maak kees het geen beserings
Cornelius verduidelik dat hulle ‘n slaapmiddel aangemaak en met vrugte vir hom uitgesit het, waarna hulle gesit en wag het tot hy geslaap het.
Alhoewel hy van ‘n tak afgeval het toe die slaapmiddel begin werk het, was die tak laag en het hy nie ernstige beserings opgedoen nie. ‘n Veearts sal hom vandag goed ondersoek.
Die bobbejaan is gevang nadat Cornelius gevra het dat inwoners vir die dier moet uitkyk.
@middelburgobserverDie bobbejaan wat gister en vandag (25 Julie) in Aerorand, Middelburg, rondgehol het is in Samora Machelstraat gekry. Hy is ‘n slaapmiddel ingegee, waarna hy veilig in ‘n vanghok gesit en weggevat is. ‘n Veearts sal more na hom kyk, omdat hy ‘n klein stukkende plekkie op sy poot het.♬ original sound – MiddelburgObserver
Lede van die GPF sektor 3.1 het die bobbejaan kort daarna opgemerk in Samora Machelstraat en hom die hele tyd in die oog gehou totdat Cornelius en Steenkamp opgedaag het.

GPF lede hou dier onder oë
Die bobbejaan het in dennebome in Samora Machel tussen Chapmanspeak en Mandelastraat rondgespring en dit is ook daar wat hy aan die slaap geraak het.
Chalmain van der Berg, voorsitter van GPF Sektor 3.1 wil graag haar lede Hester en Natasha Bird, asook Leoni Buhr en Johan Kleingeld bedank. Hulle het die bobbejaan die hele tyd van ‘n afstand af dopgehou.
Cornelius sê dat die bobejaan na ‘n rehabilitasiesentrum in Phalaborwa geskuif gaan word sodra ‘n veearts na hom bekyk het.
“Ons kan hom nie hier in die omgewing loslaat nie, hy sal net weer teruggaan dorp toe”.
Read original story on www.citizen.co.za