Video: Twee tierboskatjies met erge brandwonde in Komatipoort gered
Plaaswerkers het water oor die katjies se lyfies gegooi terwyl hulle gewag het vir hulp om op te daag.
As dit nie vir die oplettendheid van plaaswerkers was nie, sou twee erg verbrande tierboskatjies nooit oorleef het nie. Die twee kleintjies vordert tans so goed dat hulle binnekort weer in die natuur vrygelaat kan word.
Die kleintjies is vroeg in November verlede jaar ontdek waar hulle met erge brandwonde in ‘n pas afgebrande suikerrietland gelê het, berig Laevelder.
Gelukkig het die boer reg opgetree en by Gerrie Camacho, ‘n karnivoorspesialis van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad, gaan aanklop.
Hy het veearts dr. Peet Venter betrek, en in samewerking met Joubert is die katjies na veiligheid geneem.
Volgens Deidré Joubert van Wild and Free Wildlife Rehabilitation was beide in ‘n kritieke toestand: “Hulle het brandwonde regoor hul lyfies gehad, was gedehidreer en het erge rookinaseming gehad.”
@lowvelder Twee tierboskatjies wat erge brandwonde opgedoen het tydens ’n beheerde suikerrietveld-brand naby Komatipoort sterk goed aan. Video: Verskaf/Wild and Free Wildlife Rehabilitation #wildandfree #komatipoort ♬ Happy / Video CM / Ukulele ♬ Cooking / Family(897363) – ImoKenpi-Dou
Die katjies, wat Phoenix en Isha gedoop is, het op ‘n sleepwa gelê waar werkers intussen water oor hulle gesprinkel het.
Phoenix was die ergste beseer en het op die rand van die dood gestaan.
Sy het tweedegraadse brandwonde op haar gesig, neus, pote en ore opgedoen, terwyl haar stert gedeeltelik verkool was.
Isha se wonde was ligter – vermoedelik omdat sy onder haar sussie gelê het en só gedeeltelik beskerm is.
Die diertjies het die afgelope drie maande 24-uur intensiewe sorg ontvang.
Phoenix moes aanvanklik dripvoer kry omdat haar tong verbrand was, en albei het daaglikse wondversorging, antibiotika en vernevelingsbehandeling vir rookskade ondergaan.
Tot almal se vreugde het hulle bo verwagting herstel.
“Ons monitor tans hul balans, klouter- en springvermoëns as deel van rehabilitasie, aangesien beide ‘n deel van hul sterte verloor het,” sê Joubert.
“Binnekort kan hulle moontlik weer vrygelaat word.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za