Local newsSensitive Content

Twee tierboskatjies in Mpumalanga gered ná erg brandwonde

Twee tierboskatjies, ernstig beseer in ’n afgebrande suikerrietland, het onder intensiewe sorg bo verwagting herstel.

As dit nie vir die oplettendheid van plaaswerkers was nie, sou twee erg verbrande tierboskatjies nooit oorleef het nie. .

In die Laevelder van 5 Februarie is berig dat dit twee sivetkatjies was, maar die koerant het intussen verneem dat dit eintlik twee tierboskatjies was.

Die kleintjies is vroeg in November verlede jaar ontdek waar hulle klaglik miaauwend in ‘n pas afgebrande suikerrietland gelê het.

Die diere het bo verwagting goed herstel en kan moontlik eersdaags vrygelaat word.
Die diere het bo verwagting goed herstel en kan moontlik eersdaags vrygelaat word.

“Hulle was sowat drie weke oud,” vertel Deidré Joubert van Wild and Free Wildlife Rehabilitation in die Onderberg.

Gelukkig het die boer reg opgetree en by Gerrie Camacho, ‘n karnivoorspesialis van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad, gaan aanklop.

Kritieke toestand maar na veiligheid geneem

Hy het veearts dr. Peet Venter betrek, en in samewerking met Joubert is die katjies na veiligheid geneem.

Volgens Joubert was beide in ‘n kritieke toestand: “Hulle het brandwonde regoor hul lyfies gehad, was gedehidreer en het erge rookinaseming gehad.”

Die katjies, wat Phoenix en Isha gedoop is, het op ‘n sleepwa gelê waar werkers intussen water oor hulle gesprinkel het.

Phoenix was die ergste beseer en het op die rand van die dood gestaan.

Die katjies was beide erg verbrand, maar het bo verwagting goed herstel en kan moontlik eersdaags vrygelaat word.
Die katjies was beide erg verbrand, maar het bo verwagting goed herstel en kan moontlik eersdaags vrygelaat word. Foto’s: Verskaf

Sy het tweedegraadse brandwonde op haar gesig, neus, pote en ore opgedoen, terwyl haar stert gedeeltelik verkool was.

Isha se wonde was ligter – vermoedelik omdat sy onder haar sussie gelê het en só gedeeltelik beskerm is.

Intensiewe sorg ontvang

Die diertjies het die afgelope drie maande 24-uur intensiewe sorg ontvang.

Phoenix moes aanvanklik dripvoer kry omdat haar tong verbrand was, en albei het daaglikse wondversorging, antibiotika en vernevelingsbehandeling vir rookskade ondergaan.

Tot almal se vreugde het hulle bo verwagting herstel.

“Ons monitor tans hul balans, klouter- en springvermoëns as deel van rehabilitasie, aangesien beide ‘n deel van hul sterte verloor het,” sê Joubert.

“Binnekort kan hulle moontlik weer vrygelaat word.”

*Hierdie berig is na publikasie gewysig. Laevelder het aanvanklik berig dat twee sivetkatjies gered is, maar het van ’n betroubare bron verneem dat dit werklik twee tierboskatjies was. Laevelder vra omverskoning vir die verwarring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button