Vrae ná jong pa van Vereeniging in koeëlreën voor werksplek sterf

Danksy flink speurwerk is verskeie verdagtes glo reeds kort na dié voorval, verlede Woensdag, in hegtenis geneem.

Baie vrae hang nog in die lug na die skokkende moord op ‘n jong Vanderbijlparkse man, Armand Swart, verlede Woensdagoggend in Duncanville.

Sover Vaalweekblad kon vasstel het Swart omstreeks 07:00 die elektriese hek by sy werksplek in Van Riet Lowestraat oopgemaak om in te ry toe ‘n klein wit voertuig vinnig langs hom intrek. Verskeie skote is uit dié wit voertuig op Swart se bakkie afgevuur, waarna die aanvallers weggejaag het. Na wat verneem word is Swart deur meer as 20 koeëls getref. Hy het op die toneel beswyk.

Van Riet Lowestraat was Woensdag vir ‘n geruime tyd gesluit terwyl die polisie-ondersoek aan die gang was. Die moord is deur kringtelevisie-kameras voor Swart se werksplek afgeneem. Vaalweekblad kon nog nie daarin slaag om die werkgewer vir kommentaar te bereik nie. Die onderneming se naam word in die stadium weerhou.

Volgens inligting wat nie-amptelik ontvang is nie, is twee voertuie, ‘n Mercedes-Benz C-Class en ‘n Hyundai i20 in die aanval gebruik. Die polisie se ondersoekspan het inligting opgevolg wat hulle na Bramley, ‘n residensiële area van Johannesburg, gelei het. ‘n Operasionele plan is uitgevoer en twee verdagtes is vasgekeer en in hegtenis geneem. Beslag is gelê op die Hyundai met vals nommerplate. ‘n Ongelisensieerde AK47-geweer, twee handwapens en ammunisie is ook gevind.

‘n Mercedes-Benz Viano, wat ook met die aanval verbind word, is daarna opgespoor en ‘n handwapen, ammunisie en leë patroondoppies is in die voertuig gevind.

Wyle Armand Swart. Foto: Verskaf.

Danksy flink speurwerk is die Mercedes-Benz C-Class met vervalste nommerplate ook kort daarna langs die R59-snelweg aangetref. ‘n Ongelisensiseerde vuurwapen en ammunisie is in dié voertuig gevind en nog ‘n verdagte is op die toneel gearresteer. Volgens onbevestigde gerugte is een van die verdagtes ‘n polisieman wat by die Johannesburgse polisie-eenheid gestasioneer is.

Swart was die pa van twee jong seuntjies wat al etlike jare saam met sy gesin in Vanderbijlpark gewoon het. Sy familie was teen Vaalweekblad se saktyd nog te ontsteld om met die media te praat.

Volgens kennisse van die gesin was Swart ‘n stil, aangename gesinsman sonder vyande. “Dit is skokkend dat ‘n jong pa op so ‘n wrede manier van sy gesin af weggeruk is,” het een van sy ontstelde bure aan die koerant vertel.

Die polisie ondersoek die motief vir die moord.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button